Stage and Screen

Ampie: Val Sonder Jou

Ampie se Nuwe Enkelsnit Val nie Sonder Jou op Dowe Ore nie!

Ampie du Preez het geen bekendstelling nodig nie. Dié begaafde sanger, liedjieskrywer en deesdae ook finansiële-beplanner spog met treffers soos Plain Jane en Niks en Niemand wat aan hom ’n SAMA-nominasie besorg het. Nou is die sanger terug met ’n nuwe enkelsnit vir diegene wat met ’n liefdesteleurstelling worstel.

Val Sonder Jou, wat Ampie self geskryf het, gaan oor verlore liefde waar die een persoon aangaan en die ander persoon nog nie oor die persoon is wat weg is. Volgens Ampie sal meeste mense met die enkelsnit kan vereenselwig en glo dat wanneer ’n liedjie uit jou hart kom, dat die publiek dit sal opmerk, veral as hul met dieselfde situasie sit.

Die Musiekvideo vir dié liedjie is vervaardig deur Sean Else en speel af in ’n ou verlate psigiatriese hospitaal in Johannesburg.

Ampie, wat sy stem as tydloos opsom, sing reeds sy lewe lank en vanjaar is sy dertiende jaar in die musiekbedryf. Hy is ook ’n kranige gholfspeler, partytjie geesdriftige en studeer steeds.

Ampie vertel dat hy musiek skryf oor dit wat op daardie oomblik in sy lewe gebeur. Hy skryf maar meestal oor ware gebeurtenisse, en sal ook graag saam kunstenaars soos Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke of selfs Dewald Wasserfall wil werk en skryf. Ampie is mal oor country en iemand soos Keith Urban is ’n groot inspirasie.

Ampie sonder die dag toe hy op Joost van der Westhuizen se roudiens, een van sy gunsteling liedjies gesing het, as een van sy loopbaan hoogtepunte uit.

Die grootste les wat die sanger oor die dertienjaar geleer het is dat die lewe onregverdig is en dat die bestes nie altyd vinnig bo uit kom nie. Sy pa se dood was ook ’n onverwagse vuishou.

Tussen musiek maak en skryf doen Ampie ook finansiële-beplanning en aanhangers kan dalk binnekort ook uitsien na nuwe musiek.