Stage and Screen

André Schwartz: Tweede Kans

Lief vir Alles hier.. Veral sy Nuwe Enkelsnit!

Tweede Kans, ‘n nuwe enkelsnit deur een van Suid-Afrika se mees veelsydige kunstenaars, wat nie net spog met ’n moderne en unieke klank nie, maar wat gaan beloof om by gehore van alle ouderdomme aanklank te vind.

André Schwartz is beslis een van die grootste supersterre wat die plaaslike vermaakbedryf nóg oor die afgelope paar dekades opgelewer het. Nie net slaan hy asems weg as bekroonde sanger, liedjieskrywer en verhoogkunstenaar nie, maar beïndruk ook as akteur en televisieaanbieder. Daarom is dit geen verrassing dat sy nuutste musiekvrystelling nie net sy bestaande reputasie gestand doen nie, maar eintlik sy wenresep oortref!

Tweede Kans, kan beskryf word as ’n popsnit met ’n volwasse kontemporêre aanslag en vertel hoeveel dit vir jouself, en iemand anders, kan beteken wanneer jy bereid is om tweede kanse te gee.

 

Luister na Tweede Kans hier

Een van die aspekte wat van hom so ’n merkwaardige musikant maak, is die feit dat sy werk nie in ’n spesifieke genre-boksie vasgevang kan word nie. Hy kan ’n kragtige emosionele stuk uit ’n musiekblyspel net so moeiteloos opvoer soos een van sy poptreffers van ouds en daarom was dit vir die sanger lekker om iets nuut te probeer.  Die enkelsnit vorm deel van ’n nuwe album wat vir later vanjaar beplan word.

André is al van jongs af doenig met musiek en het op veertien sy televisiedebuut gemaak. Hy het klassieke musiekopleiding gehad en is net so gemaklik agter die klavier as agter die mikrofoon.

Hy is ook ’n uiters talentvolle teaterster, wat bekendheid verwerf het vir kragtige hoofrolvertolkings in verskeie musiekblyspele soos Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat, Jesus Christ SuperstarPirates of Penzance en The Phantom of the Opera. Vir laasgenoemde het hy talle toekennings ontvang en word hy beskryf as een van die beste ‘Phantoms’ ter wêreld. Dié kunstenaar is die enigste Suid-Afrikaner wat Andrew Lloyd Webber se stempel van goedkeuring wegdra en is juis tans te sien in die rol van Captain von Trapp in die verhoogproduksie van The Sound of Music by Montecasino.

Kom ons vat jou terug en tyd, en herinner jou aan Andre se vorige treffer:

Volgens André moet musiek ’n storie vertel en met luisteraars praat en hy meen dat sy nuutste vrystelling dit perfek regkry en ook simbolies is van sy planne om weer vir ’n slag sy eie vertonings te doen.