Stage and Screen

Bouwer Bosch: Hopelik

Bouwer Bosch reik Tweede Single uit

Bouwer Bosch is ’n kunstenaar wat met niemand anders verwar kan word nie. Sy klank en aanslag is onmiskenbaar eiesoortig en hy is ongetwyfeld een van die uniekste talente wat Suid-Afrika nog opgelewer het. Sy sielvolle stem, betekenisvolle lirieke en humorsin het van dag een af diep spore kom trap in die harte van sy aanhangers. Vandag is hy ’n gevestigde naam in die vermaaklikheidsbedryf met verskeie albums, TV- en fliekrolle op sy kerfstok. Hy het ook onlangs TV-aanbieder en regisseur by sy, reeds indrukwekkende, CV gevoeg en ’n aanlynwinkel vir sy liefdadigheidsorganisasie, Liefde Wen, begin.

Pleidooi, die tweede enkelsnit vanaf sy splinternuwe solo-album, Hopelik, is pas uitgereik en beloof om selfs die kieskeurigste oor tevrede te stel. Hierdie alternatiewe popliedjie – ’n gesamentlike poging deur Bouwer, Almero Welgemoed, William Loots, Matthieu Auriacombe en Peach van Pletzen – is ’n mengsel van rou hartslirieke en interessante elektroniese elemente, wat die luisteraar van die begin af sal boei. “Die liedjie gaan oor daardie een persoon wie se liefde jy nie verdien nie. Liefde is kompleks, maar is iets wat almal kan gee en ervaar. Die koorgedeelte het nie lirieke nie, wat dalk vir almal vreemd mag wees aan die begin, maar ek wou graag iets nuut probeer. Die genre, wat ek oor die algemeen aanpak, is maar iets wat ek soms voel is nog nie gedoen nie”, sê hy.

Sy album, Hopelik, word binnekort vrygestel en het ’n nuwe klank met ’n meer elektroniese, opgewekte aanslag. Dit wyk egter nie heeltemal af van die digterlike alternatiewe styl waarvoor Bouwer bekend is nie. Hy beskryf dit as weerloos en hoopvol. Ons almal sê ten minste vyf keer per week ‘hopelik’. Die album gaan oor hoe jy soms jou drome en idees in ander faktore, buiten jouself, se hande sit. Ons sal ‘hopelik’ by ons drome uitkom eendag, maar ek voel dat ’n mens dinge in jou eie hande moet vat en dit self moet maak werk,” verklap hy. “Die album is lekker divers, van die temas is dieper as ander en ons wou vir ’n klank gaan wat nie so plaaslik is nie.” Die titelsnit, wat in 2016, uitgereik is, is reeds baie goed ontvang.

Alhoewel sy gunsteling-aanhaling oor musiek: “Don’t bore us, get to the chorus”, is, het die bedryf waarin hy werk hom geleer dat goeie dinge tyd vat. Hy het nog baie planne vir die toekoms, maar vat elke projek soos dit kom. Sy nuwe album en enkelsnit is ’n goeie getuigskrif van hoeveel hy die afgelope paar jaar gegroei het as mens en kunstenaar. Dit is maar net ’n voorsmakie van wat ons nog in die toekoms van hierdie talentvolle ster kan verwag.