Stage and Screen

Burgerd Botha: Hartlagsiel

Langverwagte Solo-Album vir Romanz se Burgerd.

Burgerd Botha het beslis geen bekendstelling nodig nie. Hierdie talentvolle kunstenaar, met sy sielvolle stem, was nie net vir sewe jaar betrokke by die bekroonde groep Romanz nie, maar tree ook gereeld op by van die land se grootste feeste en konserte. Sy langverwagte debuut solo-album is pas vrygestel en beloof om aanhangers se asems weg te slaan.

Hartlagsiel is ’n pragtige kombinasie van ligte akoestiese popmusiek, hartroerende ballades en interessante elektroniese klanke, wat luisteraars sal uitnooi om saam te sing en diep te dink oor die lewe en die liefde.

Die album bestaan uit vyftien snitte, waarvan tien deur Burgerd self geskryf is. Alhoewel hy nie enkele liedjies wil uitsonder as sy gunsteling nie, meen hy dat Suikerbosseisoene die potensiaal het om ’n groot treffer te wees. Die laaste liedjie op die album, Waarvoor Ek Vra, is opgedra aan sy vriend Adam Barnard, nadat dié se moeder tragies verongeluk het.

Die Sterre, die nuutste enkelsnitvrystelling wat vandag uitgereik word, is deur Stephantasties geskryf en vervaardig en het ’n treffende akoesties elektroniese aanslag. Oor die musiekvideo wil Burgerd nog nie te veel verklap nie, maar hy sê wel dat dit met asemrowende visuele elemente en beligting gepaard sal gaan.

Burgerd is ’n perfeksionis wat glo dat hy verantwoordelikheid moet neem vir sy toekoms en loopbaan. In sy vrye tyd, geniet die sangsensasie dit om tyd saam met sy familie te spandeer. Verder is hy ook ’n direkteur van Orthologics en span hy sy talent in om vir ander kunstenaars liedjies te skryf. Hy is ook ’n avonturier, wat nooit nee sê vir uitdagende buitelugaktiwiteite nie.

 

Aanhangers is beslis bly dat hierdie talentvolle musikant nog nooit bang was om die kosbare talent wat hy ontvang het met die mense rondom hom te deel nie. Hartlagsiel is nie net ’n bewys van Burgerd Botha se uitsonderlike musikale aanleg nie, maar ook die begin van ’n baie opwindende nuwe hoofstuk van sy loopbaan.

Snitte op Hartlagsiel

As Jy Nog Twyfel

Hartlagsiel

Die Sterre

Vreesloos

Sonder Rame

Sy aan Sy

Deur uur Getemper

Suierbossiesoene

Help Me Love

Vat my Huis Toe

Drivin’

One Thing Right

Leef Van Genade

Vergeet my Nie

Waarvoor ek Vra