Stage and Screen

Chanell van den Bergh: Oorlog

“Volg jou Passie, Moet nooit Opgee Nie”

Ná die suksesvolle uitreiking van Chanell van den Bergh se enkelsnit, Twee Tree, is die blondekop sangeres terug met ’n nuwe enkelsnit, wat Oorlog heet.

Oorlog, wat deur Chanell self geskryf is, is ’n pop/country/rock liedjie wat handel oor ’n innerlike geveg wat uiteindelik tot die einde van ’n verhouding kan lei.  Chanell hoop dat haar gehoor met die liedjie kan vereenselwig.   Volgens die sangeres het musiek haar altyd deur moeilike tye gedra, en sy hoop dat haar musiek iemand anders weer deur soortgelyke tye kan dra.

Die musiekvideo vir die snit is ook deur Chanell self finansier. “Die video is in Pretoria en Melville geskiet, en deur LAS Productions vervaardig. Dit fokus op die goeie in plaas van die slegte in ’n verhouding.

Chanell sing reeds van kleins af, en het op skool gereeld deelgeneem aan kultuur-aktiwiteite. Sy het op skool nasionale goud gewen nadat sy ’n liedjie vir ’n sangkompetisie geskryf het. Alhoewel sy nog ’n groentjie in die musiekbedryf is, staan haar rolle in flieks soos As Jy Sing, Trouvoete en Mignon “Mossie” van Wyk vir haar uit. Een van haar grootste loopbaan hoogtepunte is toe sy in 2014 saam met As Jy Sing-geselskap tydens Afrikaans is Groot opgetree het.

Chanell se gunsteling musiek – aanhaling is: “musiek voed die siel”, en sy meen dat die een ding wat niemand van haar weet, is dat sy twee linker hande het.

Chanell sit ook glad nie stil nie. Sy is reeds klaar met haar volgende enkelsnit, Trek My Nader, en is druk besig om haar debuut album te voltooi. Verder is daar ook heelwat optredes in die pyplyn. “Om jou aanhangers persoonlik te ontmoet is iets anders. Ek kan dit regtig nie in woorde beskryf nie, en dis vir my die heel beste van my loopbaan,” sluit sy af!