Stage and Screen

Cordelia: Breek die Stilte

Cordelia stel nuwe musiekvideo bekend:  EersteWoorde 

Met die uitreiking van haar debuut album BREEK DIE STILTE, gedurende Mei 2015, het Cordelia groot opslae in die Afrikaanse Musiekbedryf gemaak.  Dit is veral haar treffer Mal in jou kop wat baie aandag getrek het en in ‘n oogwink na die nommer een posisie van verskeie radiostasies regoor Suid-Afrika geklim het.  Die video van hierdie liedjie het ook reeds 111 000 kyke op Youtube gehaal en kan gereeld op nasionale televisie kanale gesien word.

Sy was ook verantwoordelik vir die skryf en opname van die temalied vir die fliek Hartsbegeertes, wat as die Nr.1 Geestelike fliek gedurende 2015 aangewys is, het die liedjie Petrol en Vuur, geskryf deur Vicky Anne Serfontein vir die kykNET Afri-Visie kompetisie opgeneem en gesing en was genomineer vir die FINESSE Voelgoed Doengoed Vrou 2015, waar sy saam met 10 ander vroue vereer is vir die goeie werk wat hulle in hul gemeenskappe doen.   Sy sal ook eersdaags te sien wees in die splinternuwe kykNET reeks STERLOPERS en speel ook ‘n rol in die fliek Gebore Talente.

Cordelia is in Edenvale gebore en op die ouderdom van ses maande aangeneem.  Sy is deur haar anneem ouers in Fochville grootgemaak en het as Hoofdogter aan die Hoërskool Carletonville in 2003 gematrikuleer.  Dit is juis met die uitreiking van haar nuwe musiekvideo, EERSTE WOORDE, wat Cordelia haar hart oopmaak en haar inspirerende verhaal met haar aanhangers deel.  Die liedjie is geskryf deur Rudi Claase, maar vang Cordelia se hart, emosie en pad na vergifnis perfek vas.

Cordelia vertel self:  “Ek het my biologiese ma opgespoort toe ek 26 jaar oud was.  Ek het baie gewonder wat haar eerste woorde sou wees,… en myne …. sou ons mekaar eendag sien.  Ek het altyd ‘n hartsbegeerte gehad om vir haar dankie te sê dat sy die lewe aan my geskenk het.  Soms kan woorde jou maklik ontduik.  Veral in daardie groot en spesiale oomblikke van die lewe, die rare oomblikke wat nog jou asem kan weglsaan, jou doofstom laat of sommer jou hart laat stop vir wat voel soos ‘n ewigheid.  Om jou ma vir die eerste keer te ontmoet na 26 jaar, dit is beslis so ‘n oomblik!  Toe die dag aanbreek was ek so senuagtig.  My hande het gesweet en my onderlip het gebewe en van hierdie woorde in die liedjie som dit so mooi op:

Jou eerste woorde was in my hart.  Al was ek jare Baie diep verward!  Het jy een woord gesê En hier diep in my hart kom lê !  Jou eerste woorde is lankal oud Want in my hartklop is jou woorde goud.  Jou eerste woorde aan my het al lankal in my gebly.