Stage and Screen

Dewald Wasserfall: Jy is die Storm

Jy is die Storm!

Bewonderaars van Dewald Wasserfall se opgewondenheid oor ‘n nuwe album word binnekort beloon met die uitreiking van “Jy is die storm”. En die platinumverkoper en wenner van talle toekennings kan self nie meer sy opwinding beteuel nie aangesien hy nie meer kan wag om sy nuwe liedjies met almal te deel nie.

Eerlikheid as onderliggende dryfveer blyk die nuwe album te kenmerk. “Ek het met die skryf van die nuwe album so eerlik as moontlik probeer wees. Die liedjies is dus bietjie meer emosioneel en beteken vir my vreeslik baie,” vertel Dewald. Tog is daar ook een of twee lekker partytjieliedjies, asook die reuse titelsnit “Jy is die storm,” uit die pen van Johan Vorster en Christoph Kotze. Boonop skitter Danny Smoke se kitaarwerk en verwerkings deurgaans en hy het selfs Dewald help skryf aan “Altyd jonk bly.”

“Ek glo die nuwe album het ‘n deurlopende tema van hoop in donker tye en is beslis van my beste werk tot dusver. Ek kan nie wag vir almal om dit te hoor nie. Ons het almal baie hard gewerk en ek dink mens kan dit hoor in die finale produk.” Na ‘n uitverkoopte optrede in Londen, is Dewald ook gereed om die nuwe materiaal aan gehore bekend te stel in ‘n propvol konsertkalender vir die res van die jaar.

Boonop sal Dewald se bewonderaars ook binnekort “Jy is die storm” kan voorafbestel op iTunes en na bekendstelling van die album, ook op iTunes kan koop. Wees dus maar gereed… Dewald gaan weer ‘n musikale stormloop veroorsaak met “Jy is die storm.”