Die Siener is die ware Jakob
Gerald het al van jongs af besef hy het ‘n gawe om die toekoms te voorspel en deesdae werk hy voltyds as ‘n heldersiende. Hy word ook gereeld gevra om ontslae te raak van bonatuurlike verskynsels wat mense in hul huise traumatiseer.
In Die Siener doen Gerald ‘n verskeidenheid van mense se lesings om hul verlede, toekoms en huidige situasie te analiseer. Hy help ook om van kwelgeeste in huise ontslae te raak en besoek bekende spookplekke, soos Die Kasteel in die Kaap, Die Lord Milner Hotel in Matjiesfontein en die Rudd House in Kimberley om vas te stel of dit werklik daar spook.
Rian van Heerden, vervaardiger van Die Siener, probeer al jare om Gerald se talent te verklaar. “Ek ken hom al jare en sukkel om te begryp hoe hy doen wat hy doen. Ek weet wel twee dinge: Gerald is die ware Jakob en daar is baie dinge op hierdie aarde wat ons nooit sal kan verklaar nie. Die Siener is ‘n reeks waarvan die inhoud nog nooit vantevore op Suid-Afrikaanse TV gesien is nie – maak gereed vir ‘n onvergeetlike reeks!”
Die Siener word Woensdae om 20:00 vanaf 24 April uitgesaai op kykNET DStv-kanaal 144.