Stage and Screen

Droomkind

Die Storie van Josef

Indien jy een van die duisende Suid-Afrikaers was wat saam gelag en ’n traan gepik het in die verhoogproduksies LIEFLING en ESTER, dan is hier goeie nuus: DROOMKIND open 5 April 2014 op die Staatsteater Opera-verhoog en sal hardloop tot 4 May 2014.

DROOMKIND – Die Storie van Josef word vervaardig deur dieselfde talentvolle kreatiewe span en belowe om net so vinnig uit te verkoop.

Getrou aan die lewe van die Bybelse Josef, speel DROOMKIND af op Verneukpan in die Karoo, waar Jakob en sy seuns met skape boer. Hulle lief en leed word vertel met humor en deernis deur die dorp se twee skindertonge Oom Mattewis (Philip Moolman) en Tant Hessie (Edrien Erasmus). Met vele kontemporêre Afrikaanse liedjies verwerk deur Matthys Maree, en keurige stelontwerp deur Renier Keyser.

Josef, ’n Karoo boerseun, het groot drome vir boerdery en besigheid. Voorgetrek deur sy Pa en daarom gehaat deur sy 10 broers bevind hy homself as handlanger op die dorp se koöperasie waar die eienaar, Pote Ferreira, se trofeevrou hom probeer verlei.

Hy beland in die tronk op grond van ’n opgekookte molestasie aanklag, waar hy die eienaars van die dorp se bakkery en bottelstoor ontmoet. Beide skuld Pote Ferreira huurgeld, en Josef help die bottelstoor eienaar, Doepie, met ’n besigheidsplan wat hom gou-gou weer op die been bring. Na aanleiding van die bottelstoor se nasionale sukses gaan klop die Minister van Landbou, Mnr Landman, by Doepie aan, en word so voorgestel aan Josef. Dié se besigheidsinsig gee gestalte aan die Minister se drome en later word Josef bevorder tot ’n bestuurspos by die Land Bank.

’n Lang droogte in die Karoo bring egter die boere op hulle knieë, en ook Josef se broers kom vra hoed in die hand by die Land Bank vir hulp…

Kaartjies wissel van R140 tot R270, en is beskikbaar by Computicket. Of kliek hier om kaartjies te wen!