Altyd daardie een, die een wie se vat jou altyd by bly.
Deur Jaco Lotriet
Ek is oor die algemeen ‘n romantikus van hart maar laat ek vanuit die staanspoor getuig dat liefdesverhale my ongemaklik laat voel. In my skeptimisme vooraf, het ek nietemin altyd groot verwagtinge van produksies soos dié en gewoonlik is die eindproduk teleurstellend. Dit wil voorkom of vervaardigers ‘n resep volg wat die romanse op die skerm in so ‘n mate laat ontvou, dat die kyker opgeskeep sit met ‘n diep, dog treurige skouspel van clichés wat tot vervelens herhaal word – soos ‘n langspeel plaat wat vashaak.
Miskien is my verwagtinge te groot. Ek kan met sekerheid noem dat Eintlik Nogal Baie aangenaam verras het in hierdie opsig – geen clichés; geen langspeel plate wat vashaak nie. My vooropgestelde idees oor die film was vining uitgewis…
Vervaardigers en skrywers Pieter Oosthuizen en Jarrod de Jong, tesame met mede-vervaardigers Themba Sibeko en Justin Wiggins het nie net daarin geslaag om ‘n skerp, goed deurdagtedraaiboek, oorspronklik genaamd ‘Ally’, op die been te bring nie, hulle het daarin uitgeblink. Twee elemente wat die sterk draaiboek ondersteun, is ongetwyfeld die regie, behartig deur Jacques Brand en die naatlose redigering, wat ‘n vinnige pas aan die film verleen.
Kinematografie was, soos die afgelope jaar in Suid-Afrikaanse produksies verneem is, weereens uit die boonste rakke. Die mooie Kaap tussen George en Kaapstad word op so ‘n besonderse wyse weerspieël, dit laat die kyker voel of hy deel in die plesier wat die akteurs in daardie oomblik beleef. Selfs in een of twee tonele waar die stilswye die oorhand kry, voel mens hoegenaamd nie afgesonder van die toneel nie. Inteendeel, dit ontlok ‘n peinsende toenadering tot die gebeure in geheel, soos wanneer André Lötter se karakter op ‘n bergpas langs sy stukkende motor sit en voor hom uitstaar…
Bekroonde S.A komponis, Mauritz Lotz rond die prentjie netjies af, met agtergrond musiek wat as sterk emosionele anker dien. Lotz se werk spreek vanself en getuig van sy 30 jaar lange kleurryke loopbaan in die musiek wêreld, waartydens hy met amper elke denklike Suid-Afrikaanse sanger al gewerk het.
Al die elemente kom so effektief byeen, dit verleen ‘n ampere ongekende, druipende sjarme aan die film. ‘n Sjarme wat hard aan die hartsrieme pluk. ‘n Goeie balans van romanse, aksie, spanning en selfs tragedie, kenmerk hierdie produksie op so ‘n unieke wyse, dat ek genoop voel om te noem – dis ‘n pasaangeër in die industrie, wat nuwe standaarde stel.
Die raakvas rolverdeling sluit in gewilde name soos André Lötter van onder andere Villa Rosa – en 7de Laan faam, Marisa Drummond as Ally, bekend vir haar rolle in onder meer Isidingo en Binnelanders en Zak Hendrikz van Ballade vir ‘n Enkeling. Ondersteunende rolle word gevul deur Elsabé Daneel, Anton Dekker, Susanne Beyers, Themsi Times, Ashmund Martin en Hein de Villiers.
Ek voel dat Drummond se vertolking as Ally, grootliks tot die sjarme van die film bygedra het. Aanvanklik het ek haar rol aangesien as ietwat alternatief en vreemd, ‘n eienskap van die karakter opsugself, wat haar mede-speler Lötz, as Jay, ook ervaar. Met die verloop van tyd sien ons, sowel as Jay, die rede vir haar optrede en as kyker het ek gevoel ek groei saam met die karakters. Mettertyd voel Ally soos ‘n goeie vriendin en vertroueling, wat die einde soveel meer hartseer maak…
Die storie handel oor Jay van Niekerk, gespeel deur André Lötter, ‘n aantreklike maar teruggetrokke strokiesboek – animeerder en ietwat van ‘n beheervraat. Hy kom egter voor ‘n kruispad te staan na sy pa se skielike dood, waartydens hy nie aanwesig kon wees nie, weens werkverpligtinge… en tot sy spyt. Jay ontmoet vir Ally en word in ‘n ongemaklike posisie geplaas, deur haar grootbek en windgat eks-kêrel, en oorbeskermde pa. Veelsydige Zac Hendrikz en Anton Bekker het lewe in hierdie twee rolle geblaas. Wanneer Jay hierdie twee mans in Ally se lewe tegelyketyd ontmoet, bevind hy homself in ‘n onwrikbare situasie wat sy lewe verander op die mees dramatiese wyse. Die uiteinde is ‘n verstommende mengsel van plofbare tragedie wat mens ruk. En dan die einde, waarin hy sy liefde teenoor Ally bely, sowel as ‘n veskoning wat hy aan haar rig. Dit is alleenlik hier, reg aan die einde, waar die titel van die film sin maak en die teatergangers uitreik na die snesies en bepeinsende tema– ‘hoekom sê ons nooit vir die mense in ons lewens, wie rêgtig saakmaak, dat ons hulle lief het, totdat dit te laat is nie…’
Eintlik Nogal Baie is vervaardig in samewerking met The National Film and Video Foundation en The DTI en word deur Times Media Films versprei. Die film word landswyd uitgereik in teaters op 4 November 2016.