Maak reg vir Fynskrif 2 in Oktober
Oor die loop van die seisoen moet Lara en Ben hulle verhoudings met hulle geliefdes en kinders weer van nuuts af ondersoek, moet Corne uitendelik besluit waarvoor hy staan en hoekom hy doen wat hy doen, moet Hans aftrede trotseer, Anne besluit of sy nog ‘n prokureur wil wees en Wian sy definisie van familie herbesin. Al die karkaters – ook die kinders – leer ‘n bietjie meer van hulself terwyl alledaagse krisisse trotseer word.
Die skrywers en vervaardigers, Albert Snyman en Louis Pretorius hoop dat die gehoor “nog verder en dieper sal reis saam met al die karakters. Fynskrif twee bou op die eerste seisoen en verbreed die persoonlike en regswêreld van die reeks.”
En natuurlik is daar ook ‘n paar sake wat almal grys hare gee. Ivan Nel (Armand Aucamp) maak sy terugkeer as popster, wat Dolf teen die mure uitdryf. Egskeidings, intellektuele eiendom geskille, onregverdige afdankings en aanranding is maar net ‘n paar probleme wat ons prokureurs moet trotseer.
Twee nuwe karakters sluit ook by Van Wyk en Vennote aan. Lilani (Lea Vivier) is ‘n klerk wat haar terugkeer tot die praktyk maak na ‘n jaar se sabbatsverlof. Sy het maar nog altyd emosioneel gesukkel en veral sy en Corne het ‘n donker geskiedenis. Simon (De Klerk Oelofse) is ‘n groot nuwe kliënt wat ‘n pad stap saam met Katrien en baie ander se lewens raak.
Fynskrif 2 se regie word behartig deur Nina Swart en saai vanaf 8 Oktober om 20:00 uit op kykNET DStv kanaal 144.