Stage and Screen

Getroud Met Rugby word ‘n Daaglikse Sepie

Die aap is uit die mou! Só lyk die nuwe karakters in kykNET se Getroud met rugby

Sean van Noordwyk as Reits

kykNET het einde 2015 aangekondig dat die uiters gewilde dramareeks Getroud met rugby in ’n sepie omskep sal word en vanaf 4 April 2016 om 18:30, elke weeksaand, op kykNET, DStv-kanaal 144, as ’n nuwe sepie op die kassie sal wees.

Getroud met rugby is ʼn kykNET-suksesverhaal wat geen bekendstelling nodig het nie. Dié dramareeks is een van die gewildste reekse wat tot nog toe deur kykNET aangebied is.

Werner Coetzer as Blitz

Karen Meiring, M-Net: Direkteur van Afrikaanse kanale, is baie opgewonde oor dié nuwe era van Getroud met rugby: “Rugby lê die meeste Suid Afrikaners so na aan die hart en daarom glo ons die leefwêreld rondom dié sport sal altyd relevante en boeiende stories kan vertel.”

Gewilde karakters van die dramareeks sal steeds hulle plekke volstaan, byvoorbeeld Altus Theart, Louis van Niekerk, Rina Nienaber, Johan Scholtz, Franci Swanepoel, Nadia Beukes, David Clatworthy, Marijke van der Westhuizen en Anlia van Rensburg.

Melissa Willering as Chrissie

kykNET is ook opgewonde oor die nuwelinge in Getroud met rugby se rolverdeling. Die akteurs wat die rolle vertolk, is egter reeds ou bekendes in Suid-Afrikaanse sitkamers danksy prominente rolle in ander sepies en gewilde televisieprogramme – Jocelyn Broderick, David Vlok, Sean van Noordwyk, Arno Greeff, Ilse-Lee van Niekerk, Werner Coetser, David Louw, Christel van den Bergh, Vaughn Lucas, Jolene Martin, Fezile Mpela, Stephanie Baartman en Elsje Slabbert (Tieleman) sal almal deel van die nuwe aksie wees.

Vaughn Lucas as Denver

“Ná vier suksesvolle seisoene van Getroud met rugby as dramareeks, was dit vir my, as skrywer en vervaardiger, fantastiese nuus toe kykNET laat weet hulle het besluit om die reeks as sepie aan te bied. Nou kan die karakters – geliefde ou gesigte asook nuwes – elke dag bietjie dieper in die kykers se harte inkruip,” sê Deon Opperman, vervaardiger en skrywer van Getroud met rugby.

Die medevervaardiger en hoof- uitvoerende beampte van Opperman se produksiemaatskappy, Soné Combrink, se werk is vir haar uitgeknip. “Die kantoor is soos ʼn treinstasie,” sê Combrink. “Ons is reeds hard aan die werk om stelle te bou, die ontwikkeling van storielyne en om kostuums te ontwerp vir elke karakter.”

Getroud met rugby is vanaf 4 April 2016 om 18:30, elke weeksaand, op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.