Stage and Screen

Hugo Nieuwoudt en Lianie May: Ou Gevoelens

Afrikaanse Duet maak Nuwe Gevoelens vir Musiek.

Die sanger Hugo Nieuwoudt, wat verlede jaar sy splinternuwe album, Net Soos Die Sneeu vrygestel het is terug met ’n nuwe enkelsnit wat beloof om Ou Gevoelens weer te laat opvlam. Ou Gevoelens, Hugo se duet met die pragtige Lianie May, is ’n kontemporêre-popliejie uit die pen van Werner Beukes, en vertel hoe al die ou gevoelens opnuut weer vlam vat tussen ou skool liefdes wat mekaar na soveel jare weer raak loop.

Hugo sê dat hul op die enkelsnit as sy volgende radiotreffer besluit het juis omdat dié liedjie ’n groei in digitale verkope getoon het. Op haar beurt voeg Lianie May by dat sy dit geniet het om saam met Hugo aan die liedjie te werk en sy sien uit om te hoor wat die publiek daarvan dink.

’n Musiekvideo vir die liedjie is ook in die pyplyn, maar hieroor wil Hugo nie te veel verklap nie.

Hugo, wat in KwaZulu-Natal gebore is, is reeds vyftien jaar besig in die musiekbedryf. Hy sonder veral die werk van Bobby van Jaarsveld, Juanita du Plessis, APPEL en Elvis Blue uit.

Hugo skryf musiek wat met hom praat en waarmee hy kan assosieer. Dit is sy geliefdes wie hom inspireer om musiek te skryf, asook die alledaagse lekker en gebeure van die lewe om hom.

Hugo sonder sy jongste album as een van sy hoogtepunte uit en is druk besig om die bemarking van die enkelsnit te voltooi. Verder word daar beplan aan ’n toer vir die jaar met stoppe in Noord-Wes, Gauteng en die Vrystaat.