Besprekings vir vanjaar se Afrikaanse Musiekfees in Hartenbos is nou oop!
Vakansiegangers wat ’n Kersvakansie op die Tuinroete beplan, kan vir die derde agtereenvolgende jaar uitsien na die beste musiek en vermaak op een verhoog, en kan nou reeds plekke bespreek om teleurstelling te voorkom!
Kaartjies vir dié vertonings op 27 en 28 Desember 2019 by die ATKV Amfiteater Hartenbos is nou beskikbaar vir diegene wat vinnig wil spring en gebruik wil maak van die spesiale vroeëbesprekingsaanbod op www.itickets.co.za.
Toegang vir kinders jonger as 6 jaar oud, is gratis en daar is ’n verskeidenheid toegangsopsies vir volwassenes, wat wissel van R170 tot R260 gouesirkel kaartjies. Hekke sal om 16h00 open en die konserte sal stiptelik om 19h30 begin.
Buiten vir die musiek, sal daar ook verskeie kosstalletjies en ander uitstallers, ’n biertuin en vermaak vir die kinders wees, sodat niemand uitgelaat voel nie. Verder kan besoekers ook uitsien na ’n hele rits verrassings en aankondigings wat eksklusief vir hierdie geleentheid beplan word.
Die konsertreeks het begin as ’n droom deur Inhoud Huis Musiek se Johan Vorster, Jacomien de Villiers en die In Afrikaans-span om ’n hoë gehalte konsert te reël, wat gaan oor die sterkte van die lied en ook hoe dit mense aanraak. Dit het ontaard in ’n reuse sukses omdat dit die kultuur en harte van Afrikaners doeltreffend kon vasvang.
Die In Afrikaans Hartenbos-konsertreeks is vir elke plesierige feesganger, wat hou van goeie musiek in hulle moedertaal, asook ’n lekker kuier en is die perfekte manier om die jaar mee af te sluit. Meer inligting sal op sosiale media bekendgemaak word, soos dit beskikbaar raak.