Stage and Screen

Klikkerland

Klikkerland se vierde DVD is hier!

Mammas en pappas, wees gereed en maak reg vir groot pret, soos wat kinders landswyd dolverlief raak op die Klikkerlanders!

Huppel Hoepel, Boebel Babbel, Woepel Wappel, Rimmel Rammel, Tink Tinkie en Liela Loela is hier om te bly! Die Ghoema-benoemde kinderreeks, Klikkerland, met sy kleurvolle karakters en prettige opvoedkundige aanslag, verower reeds kinderharte vandat Volume 1 in 2013 bekendgestel is. Die vierde DVD in die seisoen is pas op die rak, en beloof om nie net voort te bou op die hoë gehalte musikale vermaak waarvoor dit bekendheid verwerf het nie, maar ook om die aandag van meer ouderdomsgroepe te trek.

Die nuwe vrystelling dek ’n wye verskeidenheid opwindende en moderne temas, wat wissel van die belangrikheid van insekte tot die towerkrag van die verbeelding. Dit bevat ook heerlike sang- en dansnommertjies, selfdoenprojekte, kos en uitstappies, waarby gehore sommer dadelik sal aanklank vind.

Volume 1, wat hoofsaaklik gefokus het op troeteldiere en hoe om vrese te hanteer, was ’n groot sukses. Die tweede aflewering het kort daarna gevolg en kykers op ’n uitstappie na ’n melkplaas geneem en hulle ook meer geleer oor oefening. In die derde deel van die seisoen, is nuwe karakters aan kinderogies voorgestel en is hulle op reis geneem na ’n Volstruisplaas, terwyl Rimmel Rammel saam met haaie gaan swem het. Hierdie is dan ook die reeks se grootste suksesverhaal, omdat dit in 2017 benoem is vir ’n gesogte Ghoematoekenning.

Klikkerland se plesier is egter nie net beperk tot DVD-opnames nie, maar kan ook as verhoogproduksies ervaar word, wat aan kinders die geleentheid bied om hulle gunsteling-karakters in persoon te ontmoet. Daar is ook onlangs ’n CD vrygestel, wat al die musiek uit Volume 1 tot 4 insluit, asook ’n musiekvideoversameling op DVD. Die inhoud van die eerste drie DVD’s is ook in episodes verdeel en word tans op kykNET uitgesaai as deel van die kindervermaak.

Die Klikkerland het nog baie planne en doelwitte vir die toekoms, wat DVD 5 en 6 van die reeks insluit.  Hulle sou ook baie graag eendag saam met Elvis Blue en Carike Keuzenkamp wou kuier op die verhoog. Klikkerland se reeks opvoedkundige DVD’s is beskikbaar by uitgesoekte musiekwinkels, soos Musica, en word versprei deur WOW Music Distribution.