Nuwe Stêrbelaaide reeks op KykNet.
Bekroonde skrywer, Paul C. Venter en regisseur en vervaardiger, Human Stark, snoer weer kragte saam na die sukses van Vlug na Egipte en Terug na Egipte met nog ‘n eg SuidAfrikaanse storie. Knapsekêrels sal vanaf Dinsdag, 9 Januarie 2018 op kykNET uitgesaai word en beloof om ‘n aangrypende reeks te wees met kinkels-in-die-kabel intrige in 13 aksiebelaaide, uurlange weeklikse episodes.
Knapsekêrels handel oor vier huisgesinne, Die Bekkers, Zimmermans, Davidse en Fortuin. Hierdie huishoudings leer mekaar noodgedwonge beter ken wanneer ‘n lid van elke gesin betrokke raak by ‘n jaagtog om oorlewing en ‘n bestaansreg in die Johannesburg van vandag. Skalkie se aanstelling by die Zimmermans word gou ‘n baie ingewikkelder werksopdrag as wat hy aanvanklik vermoed het, veral omdat Baby Tjoklits en Chilly ander idees het oor hoe die veiligheidsaspek by die onderskeie rykmanshuise hanteer moet word.
Elke karakter stel sy eie geheime agenda voorop, en kort voor lank breek daar as ‘t ware ‘n oorlog in die kleine uit. Op die kritiese mespunt tussen dit wat reg en verkeerd is, daar waar liefde omsit in haat en waar lig en donker mekaar ontmoet, daar speel die gevaarlike skaduwêreld van Knapsekêrels hom af.
Die rolverdeling sluit in Dawid Minnaar, Christia Visser, Armand Aucamp, Odelle de Wet, Wilmien Rossouw, André Odendaal, Terrence Bridgett, Sandi Schultz, Lindsey Abrahams, Roberto Kyle, Nazli George, Schelaine Bennett, Richard Lukunku, Andrian Mazive, Marisa Drummond, Jacques Pepler, Ciske Kruger, Shareen Swart, Brendon Daniels, Eduan van Jaarsveldt, Shimmy Isaacs en Riana Alfreds.
Hier is ‘n paar lusmakers:
Episode 1
Skalkie Fortuin en Mynie Bekker se paaie kruis by Interactive Security. Al het hulle dieper drome, laat hulle huislike omstandighede hulle geen keuse as om hier hulle brood te verdien nie. Maar Mynie het dalk ‘n oplossing vir Skalkie se finansiële kwellings, want Hans Zimmerman is bekommerd oor sy dogter Addie se veiligheid. Dirk Bekker se besoek aan die dokter is nie al wat vroulief Joey te diep in die bottel laat kyk nie.
Episode 2
Tot groot ontsteltenis van Naomi, haal haar seun Skalkie en sy kollega Mynie se heldedaad die koerante. Hans Zimmerman bied Skalkie ‘n werk aan – teen ‘n prys – en ongelukkig verloop Mynie en pragtige Addie Zimmerman se eerste ontmoeting allesbehalwe goed. Dirk besin oor die dokter se aanbeveling, terwyl Hans en Adam oop kaarte met mekaar speel – besigheid is besigheid.
Episode 3
Die privaat dansklas wat Rachel Fortuin en haar vriendin Cassandra aanbied, ontaard in ‘n nagmerrie. Dinge raak net erger wanneer Skalkie betrokke raak. ‘n Brand ontstaan in die Bekker-huis, en Brenda se kêrel Samuel beraam ‘n plan om van huishoudster Naomi Fortuin ontslae te raak. Met vriendin Chantel se hulp slaag Addie daarin om haar nuwe lyfwag te ontduik, terwyl Karlien tot gevangene Koos se redding kom. Dirk deel sy vrese oor die operasie met Joey.
Episode 4
Die waarheid oor oorlede seun Karel maak Joey diep seer, en Mynie se nagtelike agtervolging van Addie en Chantel werp vrugte af. Skalkie vra Mynie se hulp met Rachel se dilemma, terwyl Brenda haar mond verbypraat oor Rachel se pa. Karlien kry ‘n geskenk wat haar dag ophelder, en Mynie konfronteer Chilly oor Skalkie se vrese. Skalkie ontdek Addie se geheim, terwyl Hans en Adam se ontmoeting by die rugbyklub in ‘n senutergende speletjie ontaard.
Episode 5
‘n Oorlog in die kleine breek uit – en nou’s dit te laat om die horlosie terug te draai! Rachel kry ‘n nare verrassing by die dansskool, terwyl Mynie geen ander keuse het as om werk te praat by die huis nie. Hans sweer wraak en beraam planne vir die toekoms, terwyl Karlien ‘n groter kopseer het as net haar voorkoms. Die raaisel oor Rachel se pa verdiep, en dan daag Baby Tjoklits by die Zimmerman-huis op.
Episode 6
Joey moet ‘n plan maak met ‘n koeël. Addie en Chantel word betrek by die broeiende oorlog tussen Hans en Adam, terwyl Rachel haar verlede vierkantig in die oë wil kyk. Niemand behalwe Baby Tjoklits is bereid om Adam te help nie – en niks of niemand gaan hom keer nie. Mynie gaan verken ‘n rykmansbuurt, en Addie kry ‘n idee oor hoe om die vete waarby haar pa betrokke is, tot ‘n einde te bring.
Episode 7
Addie word erg ontnugter wanneer Hans haar die volle verhaal vertel oor sy onderhandelings met Adam, en dis baie duidelik dat Baby Tjoklits net so slinks soos Mynie kan wees. Die Davidse is gevangenes in hulle eie huis, terwyl Brenda by ‘n prokureur aanklop om hulp met Samuel se geplak. Adam vertel vir Baby Tjoklits van Addie se idee, en Karlien beraam ‘n plan om die res van die Bekkers te beskerm.
Episode 8
Lynn en Dragon besluit om by die Zimmermans besoek af te lê wanneer Chantel se storie nie vir haar sin maak nie, en Mynie roep Hasie se hulp in. Addie is slinkser as wat sy lyk – en betrek Skalkie by haar jongste plan. Rachel en Cassandra se afspraak by die kliniek voorspel net moeilikheid, en Karlien begin haarself onmisbaar maak.
Episode 9
Lynn en Dragon doen hulle eie speurwerk om agter die kap van die byl te kom, terwyl Joey slegte nuus vir haar gesin het. Chantel soek antwoorde in die bottel, en Skalkie se kwellings word net meer. Mynie wil die ridder op die wit perd wees, terwyl een oproep die potensiaal het om die oorlog tot ‘n einde te bring. Die vergadering in die Fortuin-huis kan twee vlieë met een klap uit die weg ruim, maar Rachel se toekoms word ook in ‘n rykmansbuurt bepraat.
Episode 10
Daar word nie veel geslaap in die Zimmerman-huis nie, terwyl Domkrag en Koos ‘n plan beraam om in die Kaap uit te kom. Dragon se idee sou die raaisel kon help oplos, maar Baby Tjoklits is slimmer as wat hy lyk. Fortuin wil met Skalkie praat, terwyl Cassandra sal moet help om Rachel stil te kry. Mynie soek antwoorde by Adam.
Episode 11
Dragon en Joey laat hulle nie maklik om die bos lei nie, en Baby Tjoklits maak ‘n afspraak met Mynie. Chantel wil hartsake praat, terwyl Samuel aan die ontvangskant van Brenda se wraak beland. Naomi en Fortuin haal ou koeie uit die sloot, en Cassandra se gewete ry haar iets vreesliks. Karlien se verpligtinge as gasvrou word onderbreek deur ‘n noodoproep, terwyl Hans toenemend bekommerd raak oor Addie se veiligheid.
Episode 12
Mynie en Baby Tjoklits veg om oorlewing in die bloekombos, terwyl Fortuin aanbied om Rachel te help met haar probleme in die rykmansbuurt. Karlien probeer deurdring tot Koos, terwyl dit wil voorkom asof Joey meer sukses met Domkrag het. Ongenooide gaste by die Zimmerman-huis gaan nie wag tot ‘n hek oopgemaak word nie, en daar moet inderhaas plan gemaak word met ‘n beseerde lyfwag.
Episode 13
Lynn probeer Chilly se lewe red, terwyl Zimmerman se motor by die Bekker-huis rede is tot kommer. Dit wil voorkom asof Hans en Baby Tjoklits tot ‘n vergelyk kan kom, en ‘n verrassende ontmoeting vind plaas tydens ‘n jaagtog. Die toekoms is ‘n vreemde, dog bekende terrein vir die Bekkers, Fortuins, Davidse, en Zimmermans.