Stage and Screen

Leon Gropp: Bakenlig

Gesogte Kitaarspeler se eerste Solo-Snit!

Leon Gropp, se eerste solo-enkelsnit word hierdie week vrygestel. Bakenlig beloof nie net om luisteraars se hartsnare te prikkel en vir hulle ’n hele nuwe kant van hom te wys nie, maar ook om vir dié talentvolle musikant ’n stewige plek, as sanger, te vestig in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

Hierdie liedjie is splinternuut en die eerste van heelwat nuwe materiaal wat Leon begin skep het ná die vrystelling van sy debuutalbum, Rooidag.  Kyk gerus uit daarvoor op digitale platforms en skaf dit aan!

’n Musiekvideo van Bakenlig, wat deur Fritz de Jager van Bottomside Studios opgeneem gaan word, word ook vir later beplan.

Leon is al van jongs af versot op musiek en het, vir so lank as wat hy kan onthou, in kore en ander sanggroepe gesing. Hy het egter eers in matriek vir die eerste keer met die kitaar kennis gemaak en was dadelik verlief. Die Pretorianer het die professionele wêreld van musiek amptelik betree as deel van ’n mansgroep, Hi-5, wat die land platgetoer het en selfs ’n optrede saam met Nataniël gehad in die Royal Albert Hall in London.

In 2007 het hy deel geword van die kitaarduo, CH2, wat oor die afgelope tien jaar ’n hele rits toekennings gewen het, waaronder Vonk-, SAMA- en Ghoema-toekennings vir Beste Instrumentele Album, en ook by die grootste feeste in die land opgetree het. Hy het egter onlangs besluit dat dit tyd is om sy solo-sangloopbaan ’n kans te gee

Wanneer hy nie op die verhoog is nie, is hy ook betrokke by ’n program wat personeel binne groot besighede help om verandering te hanteer. Saam met veranderingsbestuurkenner, Jaco Boëttger, reis hy die land en wêreld vol om mense in die werkplek te inspireer. Verder is hy ook ’n pa en man, wat dit geniet om tyd saam met sy gesin deur te bring.

Leon Gropp gaan verseker nou ook bekendheid vir sy pragtige stem, sielvolle musiek, betekenisvolle lirieke, unieke musiekverwerkings en gesellige verhoogpersoonlikheid verwerf. Bakenlig is ’n besonderse liedjie met ’n meesleurende melodie, wat in jou kop vassteek lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het. Dit bou nie net voort op sy bestaande reputasie as uitsonderlike musikant nie, maar dui ook ’n opwindende nuwe musiektoekoms as sanger wat op hom wag.