Stage and Screen

Marion Holm vir Beginners

Marion Holm

Marion Holm is veral op kunstefeeste ’n bekende met haar eiesoortige, komiese, solovertonings. Kosie Smit van Kosie House of Theatre het egter besluit om Holm se vertonings aan ’n wyer gehoor bekend te stel met hierdie produksie wat spesiaal vervaardig is vir, en slegs gaan speel in Johannesburg se Montecasino-teater en Kaapstad se Theatre on the Bay.

In Marion Holm vir beginners stel Holm haarself bekend aan mense wat nog nie een van haar 12 solovertonings gesien het nie;  sy neem ’n klompie hoogtepunte uit van haar vorige produksies en ryg hulle op ’n nuwe manier aanmekaar om ’n vertoning te maak getrou aan haar benadering tot teater.

Sy vertel stories uit die alledaagse lewe; gebeure waarmee almal kan identifiseer en juis daarom vind gehore dit so snaaks: Holm vertel van ’n riller van ’n vakansie in Zanzibar; die pyn van ’n mammogram; die irritasie van karwagte; haar stil pa, Namakwalandse ma en twee susters; ’n gruwelike geroei op die Oranjerivier en ook vele verhale van hoe sy haar eie naam al met ’n plank geslaan het.

Holm se komedie is meestal oor haarself, haar eie foute en haar onvermoëns. Op dié manier laat sy haar gehoor veilig voel en hoe meer hulle ontspan en besef daar is werklik nie sprake van gehoordeelname nie, hoe harder lag hulle.

Holm het in 2004 saam met Hennie van Greunen begin werk as mede-skrywer en regisseur, en saam het hulle Holm se eerste vyf solovertonings die lig laat sien: Sussie is nou suur (2004); Sussie rafel nou uit (2005); Braaivleis, rugby, sunny skies en … Sussie! (2006); Sussie: Survivor (Kuilsrivier) (2007) en Cirque du Sussie (2008).

Sedert 2009 werk Holm saam met Chris Vorster as mede-skrywer en regisseur en uit dié samewerking het gevolg: Sussie: Cheers! (2009); Met die Holm gebore (2010);  holm@iafrica.com (2011); Holmakiesie (2012); Holm: geMARIONeer (2013) en Hol Marion! (2015).

Vroeër vanjaar het Holm en Vorster saamgespan vir haar 12de solovertoning, Die Kaap is weer Holms.

In 2010, 2011, 2012 en verlede jaar is sy benoem vir ’n Fiësta-prys in die kategorie vir beste solovertoning.

In ’n tyd dat baie akteurs geen werk het nie, kom Holm voortdurend vorendag met nuwe produksies. Benewens haar solovertonings het Holm haar veelsydigheid as aktrise menigmaal al bewys, van die rol van Tant Anna in Die Casper Rasper Show tot dié van Dot in die TV-produksie Vlug na Egipte.

Deborah Steinmair het oor een van Holm se optredes op Aardklop geskryf:

“Holm skilder met woorde, stembuiging en lyftaal, hele rolprente en sirkusse. Ons reis Zanzibar toe op ’n laebegroting-nagmerrievakansie; sien haar ma in die voorkamer sit en koejawels skil voor die TV. Haar vinjette is vlymskerp maar die enigste persoon of dier wat te na gekom word in die vervaardiging van hierdie produksie is sy self. Holm dis haarself op, met skete, fobies en koddighede. Weerloos. Briljant, diep en snaksnaaks.”

Marion Holm se Marion Holm vir beginners is van 15 Julie tot 9 Augustus in Pieter Toerien se Montecasino-teater in Fourways en van 12 tot 22 Augustus in Pieter Toerien se Theatre on the Bay in Kampsbaai. Kaartjies kos van R130 tot R165 en is beskikbaar by Computicket.