Lewensles, of Diep Verbeelding Avontuur?
Deur Louw Mulder
Ek verwys na The Film Factory se nuutste Afrikaanse rolprent, Meerkat Maantuig, wat deur Hanneke Schutte vir die silwerdoek vanaf Riana Scheepers se boek, Blinde Sambok, verwerk is. Die titel van Meerkat Maantuig is ietwat misleidend, aangesien dit glad nie die dieper tema, kwaliteit drama en storievertelling wat gesien kan word, verteenwoordig nie. Dit het vir my immers duidelik geword deur die verloop van die film, hoe hierdie Maantuig ‘n groter rol speel in die omvattende ervaring van die storie.
Buiten die bekwame en emosiebelaaide optrede van veteraan aktriese, Rika Sennett, wil ek die rolvertolking van Pierre van Pletzen en Anchen du Plessis uitlig. Na haar verskyning in Vaselinetjie, was ek bly om te sien dat du Plessis beslis was vir hierdie rol. Ek kan net nie help om opgewonde te raak oor haar toekoms op ons skerms nie. Al het die karakter van Gideonette haar effens onderdruk, weens die elemente van die storie wat haar van vrye geluk en vreugde ontneem het, het sy volgens my die rol puik geregverdig. Ek kan nie help om ‘n vergelyking tussen du Plessis, en bekroonde Suid Afrikaanse aktrise Anna-Mart van der Merwe te sien nie.
Die res van die rolverdeling wat ek glo verdien om genoem te word vir hulle unieke bydrae to hierdie rolprent, is Themba Ntuli in die motiverende rol van Bhubesi, Drikus Volschenk wat die rol vertolk van Gideon de la Rey, asook Hanlè Barnard, as Gideonette se depressiewe, raad-op ma.
Meerkat Maantuig is ‘n mooi fliek. Die tonele speel af in die natuurbelaaide landskappe van Magoebaskloof, en Schutte se regie het die spyker op die kop geslaan. Die aangrypende rillertonele, verstrengel met die onsekere emosies van die storie en die onverbale leidrade van die natuur, was net soos dit veronderstel was, op die skerm vas gevang, en moet ek vol punte gee aan Willie Nel, wat in eie reg ‘n toekenning vir sy werk as kinematograaf in Meerkat Maantuig by die 2017 Silwerskermfees verdien het.
Persoonlik, is daar ‘n diep bookskap in hierdie film. Ek sal nie dink die teikenmark is juis vir tieners en jeug nie, maar meer vir volwassenes, wie se verbeelding bydra om die vloeke op hulle eie lewens as dreigend te ervaar. Soms, is hierdie vrese van ons, wat ons keer om die meeste genot uit die lewe te kry, ‘n vooropgestelde vloek, wat moontlik nie eers bestaan nie, en wat die mense rondom ons nie eers self kan sien nie. Gideonette leer ons dat sodra hierdie genotvolle dinge van die lewe ons visie verander, ons dit in ons het om daardie vloek letterlik te kan tekkel, en weer te kan begin lewe.
Maar my idees is baie, my sinne lank en my woorde goed gekies. Tog mag dit nie genoeg wees om hierdie film te ervaar, soos elke kyker dit individueel dit mag sien nie. Meerkat Maantuig was om alles te kroon, ook as amptelike keuses aanvaar by 14 Internasionale Film Feeste, waarvan die Oxford Film Fees, die Omaha Flim fees en die Austin Film Fees, maar net drie is.
Meerkat Maantuig begin 16 Maart 2018 regoor Suid Afrika te draai.