Stage and Screen

Michael Blignaut: Naglig

Michael Blignaut stel nuwe enkelsnit Naglig bekend.

Michael Blignaut glo net soos Jimi Hendrix, dat musiek jou moeiteloos kan laat goed voel oor die lewe. Sy eerste enkelsnit, Naglig is die perfekte bewys hiervan. Dit is ’n kombinasie van mooi liefdeslirieke en ’n lekkerluister-wysie, wat beloof om die luisteraar te laat wegstap met ’n ekstra huppel in die stap en ’n opgewekte vrolikheid in die hart.

Dié dertig-plusser se eerste liefdesballade is geskryf deur Vaughan – en Nerine Gardiner en gaan oor daardie spesiale iemand wat weer liefde en geluk in jou lewe kan bring.

’n Musiekvideo van die snit word ook vir later vanjaar beplan, maar daaroor wil die ster nie veel meer verklap as dat die produksie deur Jay Loots van Fathom Media behartig gaan word nie.

Michael het in Piet Retief grootgeword en sing al van kleins af Danie Botha se liedjies saam met die radio. Alhoewel hy gereeld aan skoolkonserte deelgeneem het, het hy eers later in sy lewe besluit om sy musiektalent ’n kans te gee. Hy het aan verskeie kompetisies deelgeneem, waaronder Ons Soek Die Sanger, The Voice SA en Die Kontrak, maar sonder veel sukses, omdat dit nie die regte tyd was nie.

Na skool het hy Besigheidsbestuur en Toerisme studeer by die Tshwane Universiteit van Tegnologie waarna hy sy ouers gaan help het by hulle restaurant en gastehuis, wat later uitgebrei het. Hy was egter nooit van plan om sy musiekdroom heeltemal prys te gee nie en het besluit om deel te word van ’n musiekgroep met die naam MP5, wat oor naweke by funksies en troues musiek maak. Dié groep het ook al die geleentheid gehad om twee keer in Mosambiek op te tree en die gehore het dit baie geniet. Verder is hy ook baie betrokke by sy kerk se lofsangbediening en by sy ouers se besighede.

As hy enige ander loopbaan moes kies, sou hy ’n mediaskakelbeampte wou word, omdat hy die vermaakbedryf baie interessant vind, maar verklap dat hy ook graag sy eie mansklerereeks sou wou hê. Wanneer hy nie sing nie, geniet hy dit om te reis en beplan juis om Desember ’n bietjie weg te breek Maldives toe.  Hy luister ook graag na ’n wye verskeidenheid musiek, maar sonder Riana Nel, Dewald Wasserfall, Michael Bublé, Celine Dion, Calum Scott en Adam Levine uit as sy gunstelinge. As hy eendag die geleentheid kry, sou hy ook graag saam met kunstenaars soos ADAM, Caroline Grace en Monique Steyn wou werk.

Die musiekbedryf het vir Michael Blignaut geleer om positief te bly, hard te werk vir wat hy wil hê en getrou te bly aan wie hy is. Naglig is die perfekte kombinasie van treffende lirieke en ’n meesleurende melodie, wat sy stem soos ’n handskoen pas. As dié treffer enige aanduiding is van wat hy beplan, wag daar voorwaar ’n blink toekoms op hierdie talentvolle kunstenaar in die musiekwêreld.