Rona van Blerk stel debuut-enkelsnit vry!
Rona van Blerk, ’n passievolle donkerkop met ’n sielvolle stem, is vinnig besig om vir haarself naam te maak in die musiekbedryf. Haar eerste e1nkelsnit, Veilig, word hierdie week uitgereik en gaan beslis verskeie musiekharte, regoor die land, verower.
Veilig is ’n Afrikaans-akoestiese liedjie met ’n unieke Pop-aanslag uit haar eie pen en gaan daaroor dat elke mens graag veilig wil voel, ten spyte van terugslae in die lewe. Die treffer is die perfekte pasmaat vir die nuweling se sterk, strelende stem en is beslis iets waarby gehore van alle ouderdomme sal aanklank vind.
’n Musiekvideo, wat deur Lourens Luyt aanmekaargesit is, van die enkelsnit is onlangs in die bosbouplantasies rondom Piet Retief verfilm en sluit ook beeldmateriaal uit haar kinderdae in.
Oor die afgelope paar jaar het sy al verskeie optredes gedoen, waaronder die Grey College Musiekfees saam met Elvis Blue toe sy vir ’n vertoning vir Andriëtte Norman moes instaan. Die sangeres spog met ’n graad in Drama- en Toneelkunde, asook ’n Nasionale Onderwysdiploma, en sal beslis eendag ’n televisierol of twee wil losslaan. Rona geniet ’n wye verskeidenheid musiek, maar sonder Karen Zoid en Laurika Rauch uit as haar grootste inspirasie. Sy sal ook eendag graag die verhoog wil deel met kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Jo Black, Riana Nel, Spoegwolf en Joshua na die Reën.
Die musiekbedryf het vir Rona geleer dat dit belangrik is om jou eie klank en styl te vind. Veilig is die perfekte kombinasie van treffende lirieke en ’n meesleurende deuntjie, wat haar stem nie net op sy beste laat vertoon nie, maar luisteraars ook uitnooi om saam te sing. Net soos die karakter in die fliek, August Rush, glo sy in die krag van musiek soos wat ander mense in feëverhale glo en haar eerste enkelsnit het beslis genoeg betowering om vir haarself ’n eie suksesvolle sprokie te bou in die toekoms.