Stage and Screen

Valeska Muller: Skyn jou Liggie vir My

‘n Klein Liggie uit ‘n Donker Verlede maak Mooi Musiek!

Die musiekvideo van Valeska Muller se nuutste elektroniese poptreffer, Skyn jou liggie vir My, is onlangs vrygestel en het reeds almal aan die praat… en met goeie rede, want in hierdie vertelling oorwin sy nie net ’n intense innerlike stryd met haarself nie, maar beïndruk sy ook met haar vernuf as aktrise regdeur die video.

Hierdie aangrypende storielyn is deur Nic Billington verfilm in die sprokiesagtige woud by Casalinga in Muldersdrift en sluit ook skote in wat met behulp van ’n groenskerm geskep isValeska speel self die verskillende karakters en was vir haar ’n uitdaging om die rolle te vertolk. Om hulle aan die einde van die video te kry om mekaar te ‘ontmoet’, het goeie beplanning gevatValeska se hare en indrukwekkende grimering vir elke toneel was die handewerk van Kaila Botha, en Louis, Marika en Esti Opperman was self van groot hulp op die dag, wie het gesorg dat alles agter-die-skerms seepglad verloop.

Skyn jou Liggie vir My is die tweede vrystelling vanaf haar opkomende album. Die snit, wat reeds goed ontvang is deur die publiek en radiostasies, het ’n opgewekte wysie en is saam met vervaardiger BIGG-T geskep. Die liedjie herinner elke keer opnuut dat ‘n mens ’n verskil kan maak deur sy liggie vir ander te laat skyn. Almal het ’n stukkie donker uit hulle verlede. Deur dit te konfronteer, verjaag jy die duisternis en word jy vry van die seer. Moet nooit opgee nie, want onthou hoe donkerder jou situasie, hoe helderder sal jou liggie skyn.

Valeska, wat haar eie musiekskool – Valeska Muller Vocal Academy (VMVA) besit, werk al negetienjaar in die musiekbedryf en het op die musiekrealiteitsprogram, Zing, haar debuut op die kassie gemaak as deel van die Top 7 van die kompetisie, wat vir haar baie deure oopgemaak het. ’n Tragiese ongeluk, gedurende ’n mediageleentheid vir die verhoogproduksie Sexy and the City, het amper haar droom verwoes, maar opgee was nie vir haar ’n opsie nie.

Haar nuutste enkelsnit en video, het die sangeres geïnspireer om ’n inisiatief te loods waarin sy graag vir luisteraars ’n platform wil skep om hulle stories te deel. Belangstellendes kan hulle liggieskyn-oomblikke op haar blad deel, met die hutsmerk #SkynJouLiggieVirMy aan die einde van die vertelling.