Die ware, humoristiese verhaal van ‘n kronkelrige liefdespad na die kansel
Deur Jaco Lotriet
Stroopsoete nostalgie. Daar is nie twee beter gekose woorde om hierdie onvergeetlike liefdesverhaal te beskryf nie. ‘n Verhaal so boeiend, beide die karakters en storielyn omvou die gehoor van meet af tot op ‘n punt waar hul met oorgawe verlore gaan in ‘n wêreld van weerloosheid, onverskrokkenheid as antitese, liefde, vriendskap, familie twis en selfs oorlog; saamgesnoer in ‘n twee uur lange film wat my hart gesteel het.
Ter viering van Huisgenoot se 100ste bestaansjaar, het redaktrise Henriëtte Loubser en haar span ongeveer twee jaar gelede in ‘n dinkskrum daarop besluit om ‘n lekker romantiese fliek te maak en hul eerste keuse was om KykNET te betrek by die projek. Bekroonde regisseur Quentin Krog is ingespan om die knap regie te behartig en Danie Bester stap in as vervaardiger, tesame met lynvervaardiger, Dries Scholtz. Daarna is ‘n kompetisie van stapel gestuur waartydens lesers hul eie, ware liefdesverhale kon instuur en eindelik sou die wenpaar se storie as inspirasie vir die draaiboek dien.
Irma de Klerk (neé Humpel) van New Castle se vertelling van haar en haar man Sampie se hobbelrige liefdespad na die kansel, het gewen en die uiteinde was ‘n film wat die verbeelding aangryp en die siel diep roer. Haar skrywe Slim vang sy baas, is slim verwerk na vele gedaantevwerwisselings van die draaiboek, deur skrywers Sean Robert Daniels en Tina Kruger, om spanning en intrige verder te bewerkstellig.
Die storie open met Irma, vertolk deur immergroen Simoné Nortmann van 7de Laan faam, wat op haar troudag voor die kansel ‘n oomblik neem om die ‘gevolge’ van ‘n ‘ja’- antwoord op die predikant se vrae, eers goed na te dink. Wat volg, is ‘n monoloog, direk gerig aan die kamera en gehoor, wat die toon vir die res van die film aangee. Met eerste opslag, voel hierdie tipe storie lewering ietwat vreemd, alhoewel die gebeure vol sirkel kom, saam maas aan die einde en so ‘n duidelike prentjie vorm. Teen hierdie tyd, moet ek erken, was ek so weggevoer deur die sprokiesverhaal voor my op die skerm, ek het gevoel of ek in ‘n besonderse genotvolle beswyming was…
Francois Jacobs, as bullebak Sampie de Klerk, trap diep spore in die produksie. Ek het begrip gehad vir sy pogings om Irma se hart te wen. Dit is ‘n regte stoutgat rol waarin Jacobs se ywerige vertolking van Sampie vars, opreg en teer uitgebeeld word. Sy deursettingsvermoë verstom, soos hy berge sal versit om Irma se liefde te wen, maar met haar korrelkop, vrypostige houding is dit net ‘n gesukkel, gebore uit die feit dat sy nie ‘n man wil trou wat haar aan haar pa herhinner nie. Juis om hierdie rede, is daar ‘n definitiewe wending wat op een tydstip in die film gebeur en die spanning tussen haar en Sampie aanwakker. Ek moet bieg, ek het Nortmann nog net in 7de Laan as bedorwe brokkie Nadia Croukamp, gesien. Haar rol as Irma, in teenstelling met die sepierol, is verfrissend pittig. Sy staan vir niks en niemand terug nie. Nortmann, saam met mede-akteur Bennie Fourie is ook hierdie Desember te sien in The Big Bad Musical, wat in die Roodepoort Teater gesien kan word.
Die hoofspelers word vlytig ondersteun deur ‘n rolverdeling van byspelers, waaronder jong akteurs wat die ouer akteurs se vroeër tydsgenote speel. Die volwasse rolverdeling sluit in onder meer Lara Kinnear, as Sampie se maltrap suster Marieda de Klerk. Haar man word gespeel deur akteur Bennie Fourie, wat self ‘n slag het vir goeie komedie – Bennie Fourie vertolk die rol van Sampie se oorlog kameraad en later sy swaer, Karel Grové. Neels van Jaarsveld en Nicola Hanekom speel onderskeidelik Irma se alkoholis pa en geboeliede ma. Immergewilde veteraan-aktrise Elize Cawood, wat met haar bekwaamheid deesdae baie gereeld in Afrikaanse films spog, is Ouma Martie, Irma se steunpilaar. Drikus Volschenk as Willem de Klerk, en sy vrou Dina, vertolk deur Edrien Erasmus, is Sampie se ouers wie die familie kiekie vervolmaak.
Die voorafgenoemde draaiboek aanpassings, het as te ware die rolverdeling heelwat ingeperk, ten gunste van ‘n meer gefokusde storielyn en sodoende het die verhaal wat dekades vantevore, in die laat sewentigs begin het, meer fasette bygekry.
‘n Film wat deels handel oor ‘n grensoorlog wat ‘n paar duisend kilometer van ons land se grense af gestry is, sou sekerlik so na as moontlik aan die veggebied verfilm word maar moenie glo nie. Kinematograaf Brendan Barnes en sy span het met opslag besluit om hierdie oorlog tonele op eie bodem net buite Bela-Bela te skiet. Hy en reggiseur Quentin Krog is hier genoodsaak om natuurlike ligbronne te gebruik wat ‘n uidaging was. Interessant genoeg is daarop besluit om ouer kamerafilters in te span, wat ‘n ‘sagter’ voorkoms skep, en die kyker laat terug dink aan fotos van ouds, in voeling met die tydsperiode waarin die storie afspeel.
Benjamin Willem is verantwoordelik vir dir oorspronklike musiek in die film, deur nie net die klankbaan prettig te hou nie, maar ook die klanke laat dien as emosionele steunpilaar wanneer die storielyn dit vereis. Die produksiespan in geheel het bygedra tot ‘n film wat nie net ‘n genotvolle, ontspannende atmosfeer vir die hele familie skep nie maar ook die hartsnare roer op so ‘n wyse, dat dit inspireer.
Moenie ‘n soetsappige romantiese verhaal verwag nie maar liewer ‘n liefdesverhaal wat eg voel, geheel met al die kinkels in die kabel en ‘n goeie dosis skerp, raakvat humor wat verras van begin tot einde.
Vir die Voëls, in samewerking met Huisgenoot, kykNET Films en The Film Factory begin landswyd in Ster Kinekor teaters draai op 25 November 2016.