2ndLife

2ndLife Gee Lewe aan ‘n Splinternuwe Afrikaanse Klank.

Boon, hoofsanger van die spirituele musiekgroep 2ndLife, se hoendervleismooi rasperstem is die perfekte pasmaat vir die emosiebelaaide lirieke waaruit hulle werk bestaan. Dié duo verower al plaaslike en internasionale harte sedert hulle debuut-album, Everything is Possible, in 2011 uitgereik is en beplan om voort te bou op hierdie sukses met hulle splinternuwe Afrikaanse vrystelling, Lewe. “Dis ‘n kombinasie van lekkerluister- en geestelike musiek en kan beskryf word as vitamiene wat geluister word vir die siel,” verklap 2ndLife entoesiasties.

Die eerste enkelsnit, Lewe, is pas vrygestel en is een van daardie liedjies wat jou diep raak wanneer jy dit vir die eerste keer hoor. Die snit, wat deur die duo self geskryf is, bou voort op die inspirerende wenresep waarvoor hulle bekendheid verwerf het en sluit ‘n mengsel van elektroniese klanke en ander snaarinstrumente, soos die banjo, mandolien, kitaar, klavier en viool, in.

Boon Gerrit Boonzaier is van jongs af blootgestel aan musiek, omdat sy ma ‘n kranige pianis is. Hy sing al vandat hy vyf jaar oud is en het toe hy sewe was ‘n boek geskryf, met die naam Die Singende Seun, wat ‘n bewys was van waar sy hart lê.  Na skool moes hy kies tussen tennis en musiek en sy passie het op die ou einde geseëvier.  Die Pretorianer het musiek studeer aan die Tshwane University of Technology en tree al professioneel op vandat hy agtien is. Voordat 2ndLife in 2010 gestig is, was hy voorsanger van die suksesvolle groep, Movie 55, wat speeltyd oor radiostasies soos 947, PukFM, East Coast Radio, KovsieFM, UJFM, KFM en vele meer, geniet het.

Nadat tragedie sy pad met Liezel en haar twee kinders s’n laat kruis het, het hulle saam besluit om ‘n nuwe begin te maak en só is 2ndLife – ‘n naam wat hulle gesin verteenwoordig – gebore, met Liezel as liedjieskrywer en Boon as sanger. Musiek het oor die jare hulle sielskos, herstelpad en medisyne geword en hulle wou graag hierdie reis met gehore deel. Die groep se aangrypende Engelse album was onmiddelik ‘n treffer en is goed ontvang, plaaslik en oorsee. Hulle droom was egter nog altyd om hulle inspirerende boodskap in hulle Moedertaal vas te vang, wat gelei het tot die ontstaan van hulle eerste Afrikaanse album. “Ons mikpunt was om die mooiste Afrikaanse musiek te maak wat hierdie land nog ooit gehoor het. Ons voel tevrede met ons nuwe vrystelling. Dit het ons sewe jaar gevat om die inspirasie bymekaar te kry vir hierdie album en ons hoop dat dit die luisteraar sal laat goed voel en die hartsnare sal laat saam sing,” sê die groep.

As Boon enige ander beroep moes kies, sou hy beslis ‘n sielkundige wou word omdat dit vir hom belangrik is om mense te help en te inspireer. Hy luister na ‘n wye verskeidenheid musiek, wat wissel van Klassieke Musiek tot Rock, en Freddy Mercury en Miles Kennedy word uitgesonder as sy grootste inspirasie. Hy sou ook nog graag eendag saam met Koos Kombuis wou werk, omdat hy al vir baie lank ‘n groot aanhanger is van sy werk.

2ndLife se doelwit is om mense te inspireer met hulle musiek en boodskap. Die alternatiewe benadering en sielvolle vertolking van die liedjies op hulle nuwe album en Boon se unieke stem, is die perfekte bestanddele vir ‘n eindproduk wat nie net ‘n omwenteling gaan veroorsaak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie, maar ook vir hulle ‘n permanente plek besorg op elke musiekliefhebber se speellysie.

Comments are closed.

Scroll To Top