ADAM stel eerste enkelsnit, Hoogtevrees, van-af nuwe album bekend!
Na drie suksesvolle albums en ‘n kortspeler saam met Daniel Baron, is die popgroep ADAM kliphard aan die werk aan hul volgende album, Hoogtevrees, wat teen die middel Augustus 2016 op die rakke sal wees. Hugo Ludik, Reynardt Hugo en Kyle Grant is die drie lede van die groep.
Goeie nuus vir stoere aanhangers van die groep is egter dat die titelsnit van die album nou reeds as ‘n enkelsnit uitgereik word.
Die meeste mense sal kan identifiseer met die liedjie Hoogtevrees, vertel Hugo Ludik wat dit saam met sy sangmaat Reynardt Hugo geskryf het. “Dit gaan oor ‘n romantiese verhouding wat by ‘n kruispad kom en jy dan wonder: wat nou?” Dikwels sal ‘n mens dan die verhouding in twyfel trek en wonder of dit gaan werk of nie. Hugo verduidelik dit is dan dat jy soms maar net jou oë moet toeknyp en ‘n geloofsprong maak.“Jy moet van die verlede vergeet en op ‘n skoon bladsy begin,” is sy advies.
Hy beskryf Hoogtevrees as ‘n “polsende popliedjie met ‘n vinnige tempo waarop jy lekker sal kan dans”.
Oor die uitreiking van die volledige album in Augustus is die manne net so opgewonde. Hugo vertel dat hulle twee jaar lank aan hom gewerk het, en daarom is dit beslis die album met die sterkste liedjies op. “Dit is in ‘n tipiese ADAM-styl waaraan ons ondersteuners gewoond is. Ons het daardie fondament behou maar tog ook ‘n paar nuwe klanke ingebring,” verklap hy.
ADAM is sekerlik een van die mees produktiefste groepe vandag in Suid-Afrika. Na hul eerste album, Adam, in 2011 verskyn het, het hulle Vir jou gemaak (2012) en daarna Goud (2014) uitgereik. Al drie hierdie albums het goue status bereik.
In 2014 sing hulle die liedjie Sal oorlog vir jou maak in die plaaslike lokettreffer-fliek, Pad na jou hart, wat ‘n oornag-sukses vir hulle word. Dit boer nie net op die treffersparades nie, maar ontvang ook ‘n Huisgenoot Liedjie van die Jaar-nominasie asook ‘n Ghoema-toekenning vir Liedjie van die jaar.
Ander Ghoema musiektoekennings op ADAM se kerfstok sluit in Beste Nuweling (2011) en Groep van die Jaar (2015).
Verder tree hulle vir drie jaar agtereenvolgens (2012 – 2014) by die Huisgenoot Skouspel in die Sun City Superbowl op. ADAM skuur ook skouers met internasionale kunstenaars. Hulle open vir die Ierse groep, Westlife, in Namibië (2011) en vir die Australiese rockgroep, Air Supply, tydens hul Suid-Afrikaanse toer (2014).