Home / Archives / Theatre Archives / Altyd in my Drome

Altyd in my Drome

’n Opwindende nuwe Afrikaanse musiekblyspel kom in 2016 na Pieter Toerien se Montecasino Studio Teater, gegrond op die 1952 film van Pierre de Wet Altyd in my Drome.  Met Willem Botha, Grant Towers, Michelle Botha, Tessa Denton, Sanli Jooste en Darius Engelbrecht.

Grant Towers, Michelle Botha, Willem Botha, Darius Engelbrecht, Sanli Jooste and Tessa Denton

Grant Towers, Michelle Botha, Willem Botha, Darius Engelbrecht, Sanli Jooste and Tessa Denton

Die vervaardigers wat die trefferkomedies Vettie Vettie, Twee vir die Prys van Een en Marion Holm vir Beginners in 2014 en 2015 die lig laat sien het – Kosie House of Theatre – bring hierdie nuwe musiekblyspel in 2016 na die verhoog.

´n Sukkelende komponis, sy vriend, ´n mooi sangeres en ´n kwaai agent wat op vars musiek vir ´n blyspel aandring, is die spil waarom alles draai. Intussen probeer Klaasvakie sy lyf Kupido hou. Siedaar! Die resep vir ´n musiekspel vol kinkels, liefde en komedie.

´n Toergeselskap wat nie op dreef kan kom nie, moet nuwe liedjies kry vir ´n opvoering, maar begeestering ontbreek totdat Ben (Willem Botha) smoorverlief raak op ´n sangeres (Sanli Jooste) nadat Klaasvakie (Michelle Botha) hom met ´n Kupido-pyl (Tessa Denton) tref. Snags droom Ben van haar – alles in operette-styl – en verklaar hardop al singende sy liefde.

Fanie (Grant Towers), sy vennoot, buit die kans uit en neem skelm elke liedjie op. Die agent (Darius Engelbrecht) is in sy noppies met die nuutskeppings en por Fanie aan om Ben aan die droom te hou. Die gevolg is dat Fanie nie meer slaap nie en hy Ben op alle maniere aan die droom moet hou. Boonop moet hy die drome volgens tema aanhelp. Ben word met warm melk, kaviaar en biefstuk onthaal. Selfs ´n perd word die kamer ingesmokkel om hom in sy slaap te begeester ten einde ’n ruiterlied te komponeer.

Uiteindelik kort net die slotlied, uiteraard ´n liefdeslied , maar Ben het ophou droom. Wat nou? Klaasvakie (nog steeds met Kupido se boog) kom tot hul redding, maar tref Fanie en die bordjies word verhang…

Die produksie skop af by Pieter Toerien se Montecasino Studioteater in Johannesburg vir ‘n sewe weke speelvak vanaf 6 Julie 2016. Dit maak deel van die die Afrikaanse seisoen by die teater uit.

Oorspronklik geskep deur Pierre de Wet met Al Debbo en Frederik Burgers en verwerk vir die verhoog deur Neels Clasen en Dawid Boverhoff.

Lekker lag en saamsing vermaak vir die hele gesin.

‘n Trotse Kosie House of Theatre produksie.

*Foto’s deur Jo Spies

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top