Met die afwagting op Brendan Peyper se nuutste album, Twintig20 wat al reeds beskikbaar is vir pre-orders op digitale platforms, het hy onlangs sy nuutste enkelsnit vrygestel van die album af om aanhangers ‘n idee te gee van waar dit die lekkerste is – op Brendan se Trekker natuurlik.
Lekkerder op my trekker is die nuwe lighartige enkelsnit met ‘n musiekvideo om daarby te pas kort op sy hakke. Met Brendan wat weer terugkeer na sy plaasseun wortels toe, stel hierdie treffer ook ‘n goeie idee op van wat jy kan verwag van die res van die album.
Die goeie ou-pret-klank met boodskappe van liefde en goeie tye, maar met ‘n baie lekker nuwe, amper country-rock dryfkrag agter dit om ook die kunstenaar se musikale groei te toon. Met Lekkerder op my Trekker beskryf Brendan basies’n boeremeisie so na aan sy eie hart.
‘n Selfstandige dame wat nie bang is om enige taak self aan te pak nie en selfs vir Brendan kan wys hoe ‘n ding of twee gedoen word. Op die ou einde van die dag help die video ook om te bevestig dat dit nie saak maak of jy die beter trekker het nie, maar liewer saam met wie jy op die trekker ry.