Home / Archives / Music Archives / Charlize Berg: Yster in die Vuur

Charlize Berg: Yster in die Vuur

Innerlike Krag vir al die Ysters in die Vuur!

Dit gaan oor innerlike krag, liefde en aanvaarding vir jouself, asook selfvertroue om net jouself te wees, ten spyte van wat die samelewing verwag. Dit is die betekenis agter Charlize Berg se splinternuwe enkelsnit en musiekvideo, Yster in die Vuur, wat onlangs vrygestel is en reeds oud en jonk gaande het.

Hierdie treffende popsnit, wat sy saam met haar tweelingbroer Jake Burg geskryf het, is een van daardie liedjies wat jou dwing om stil te staan en na die lirieke te luister. Nie net omdat jy verstom is deur haar pragtige stem en die emosie wat duidelik teenwoordig is nie, maar ook omdat die wysie jou dadelik meevoer. Die boodskap van hierdie lied is een wat na aan Berg se hart lê, en deur dit, hoop sy dat dit luisteraars sal inspireer om weer in hulle self te glo en krag te kry om bo enige uitdaging uit te styg.

Die musiekvideo is in Follicle Hair Atelier se Hazeldean Photographic Studio verfilm deur Pierre Smith en die idee was om die storie, wat saam met haar vriendin Sue-Marie geskep is, so eenvoudig en eerlik as moontlik te hou.  

Charlize Berg, haar debuut-album, is in 2011 vrygestel en is in 2013 gevolg deur Deluxe Weergawe, ’n verwerking van haar debuutalbum wat agt nuwe treffers ingesluit het. Sy het in 2013 ook ’n Engelse album in Los Angeles opgeneem, waar sy ook aan die Musexpo-musiekfees deelgeneem het.

In 2016 is haar Ghoema-bekroonde derde album, As Jy Weet Dis Liefde, uitgereik wat verskeie nommer een-treffers opgelewer het en steeds baie goed verkoop. A Magical Christmas With Charlize Berg, die eerste album van ’n reeks vrystellings wat sy beplan, het die rakke in Desember 2018 getref en is dadelik deur aanhangers opgeraap. Nog ’n album, in hierdie reeks, word vir later vanjaar beplan.

Ikoniese legendes met groot stemme soos Celine Dion, Whitney Houston, Adel, Barbra Streisand, Amy Winehouse en Mariah Carey inspireer haar omdat hulle so talentvol is en sy sou nog graag eendag saam met sterre soos David Foster of David Guetta wou werk en in ’n Broadway-musiekblyspel wou optree. Maar vir nou werk sy hard aan haar passie en hou sy die dinge wat regtig saakmaak in die lewe naby aan haar hart.

Charlize Berg wil graag permanente voetspore in die harte van luisteraars los en met uitstaande gehalte liedjies soos Yster in die Vuur kan ’n mens sien hoekom sy dit so maklik en moeiteloos regkry. Die enkelsnit is uniek en outentiek en word perfek gekomplementeer deur haar sterk klassieke stem en onblusbare passie vir musiek.

Yster in die Vuur is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top