Home / Archives / Music Archives / Daniel Baron: Hart

Daniel Baron: Hart

Bekroonde sanger Daniel Baron reik eerste Afrikaanse enkelsnit uit

Die gewilde Suid-Afrikaanse trefferlyskoning, Daniel Baron, het sy eerste Afrikaanse enkelsnit, HART, ‘n betekenisvolle ballade op 22 Januarie 2016 op iTunes uitgereik.

Baron beskryf HART, ‘n baanbrekerskuif in sy loopbaan, as ‘n liedjie wat handel oor “’n langafstandvriendskap en hoe ware liefde nooit kwyn nie, ongeag van hoe ver n mens is van die een vir wie jy lief is.”

Hoewel hierdie sanger en liedjieskrywer al verskeie musiekhoogtes bereik het, betree hy nou nuwe grond wat steeds vir die luisteraar hoendervlies gaan gee as gevolg van Baron se kenmerkende klank, onmiskenbare stem en diep lirieke.

“Ek is ‘n groot ondersteuner van Afrikaanse musiek en hoewel ek ‘n Engelse kunstenaar is, wou ek nog altyd my eie Afrikaanse liedjie skryf en vervaardig.”

Hoor HART hier

Daniel Baron is een van die gewildste Suid-Afrikaanse sangers op eie bodem en ook in Amerika en Brittanje. Sy trefferliedjie Indestructible is onlangs vanaf sy jongste album Apollo vrygestel en word gereeld op radiostasies gehoor.

Kort na die triomf van Indestructible, het Baron nog sukses bereik met die liedjie Say What You Want wat hy saam met die immergewilde Afrikaanse popgroep ADAM (Hugo Ludik, Kyle Grant en Reynardt Hugo) opgeneem het. Die liedjie vorm deel van hulle kortspeler, Yound And Wild, wat einde 2015 uitgereik is en is ook as deel van die klankbaan in die rolprent Vir Altyd, wat landswyd op 12 Februarie 2016 uitgereik word, opgeneem.

Hierdie enkelsnit is op 6 Junie 2015 in Suid-Afrika, Holland, België en Luxembourg vrygestel en het oornag ‘n treffer geword – binne ‘n paar uur na die vrystelling daarvan het dit die nommer 13-posisie op die iTunes Coca Cola Top 40 bereik.

Afgesien van vele ander benoemings het Baron ‘n Wawela Musiek Toekenning vir Beste Manlike Kunstenaar en Liedjieskrywer ontvang en is hy genomineer as Beste Skrywer en Kunstenaar vir Beste Klankbaan in ‘n Vollengte Rolprent of Teatrale Dokumentêr vir Stuck.

Nou, met sy toetrede tot die Afrikaanse mark, hou almal asem op om te sien watter hoogtes hy steeds gaan bereik.

Baron sluit af: “My ondersteuners dring nou al vir ‘n ruk daarop aan dat ek ‘n Afrikaanse enkelsnit opneem, en ek is regtig opgewonde om dit finaal vry te stel!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top