Home / Archives / Music Archives / Dawie de Jager: Beyond Infinity

Dawie de Jager: Beyond Infinity

The Voice Stem stel treffende nuwe enkelsnit bekend!

Dawie de JagerDawie de Jager is beslis nie ’n onbekende gesig in die musiekbedryf nie. Hy het nie net die ‘oor’ van Bobby van Jaarsveld en The Voice SA-aanhangers gedurende die tweede seisoen van dié realiteitsprogram gevang nie, maar is ook die kreatiewe komponis agter die klankbane van verskeie lokettreffers, waaronder Roepman, Sy Klink soos Lente, Jonathan Verraaiers, en meer huidiglik, Stroomop.

Nóú is hy weer in die kollig met sy splinternuwe enkelsnit, Beyond Infinity, wat pas bekendgestel is en beloof om luisteraars weer van vooraf te beïndruk en sy loopbaan ’n verdere hupstoot te gee.

Die musikant, met sy kenmerkende hoedjie, se diep storievertellerstem is die perfekte pasmaat vir hierdie hoendervleismooi kontemporêre snit uit sy eie pen. Beyond Infinity is belaai met emosie en laat jou onmiddellik besef hoeveel liefde Dawie het vir dit wat hy doen. Die snit se meesleurende wysie is nie net sag op die oor nie, maar is ook iets wat lank in jou kop bly vassteek nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het.

Volgens die sanger, wou hy homself nie tot ’n spesifieke taal en genre bind met sy musiek nie en het hy besluit om vir ’n slag van sy Engelse werk met luisteraars te deel, nadat sy deelname aan The Voice vir hom soveel nuwe aanhangers besorg het. ’n Albumvrystelling word ook vir die nabye toekoms beplan.

Dawie het in ’n sportiewe huis grootgeword, maar daar was altyd plek vir musiek. Sy ouers het selfs vroeër jare musiekaande by Bronkhorstbaai gehou en dan het bekende name soos Lucas Maree, Anton Goosen en Laurika Rauch kom saamkuier. Alhoewel hy nie toe veel daarvan gemaak het nie, het die gogga hom tog later gebyt toe hy in graad tien sy eerste kitaar gekry en ’n band begin het. Aan die einde van graad twaalf, het by die musiekgroep Klopjag inngeval en vanjaar is reeds sy sestiende in die bedryf.

Alhoewel die groep steeds na al die jare optree en selfs al ’n draai in Engeland gaan maak het, het hy ook in 2009 by Die Tuindwergies aangesluit saam met wie hy by feeste soos Jacaranda Dag opgetree het. Sedertdien het hy ook naam gemaak as rolprentmusiekregisseur en -komponis en het hy al agt rolprentklankbane gekomponeer.

As hy enige ander beroep moes kies, sou hy graag ’n argitek wou wees omdat hy baie van skeppende werk hou Dawie glo dat wanneer woorde en prentjies nie meer kan sê hoe jy voel nie, musiek jou sal dra en dit is baie waar oor sy eie werk. Beyond Infinity se diep lirieke gaan beslis luisteraars se aandag trek, maar dis die diep emosie wat in hierdie enkelsnit vasgevang is wat nog vir jare in hulle harte gaan leef.

About Louw Mulder

Editor At Stage and Screen

Comments are closed.

Scroll To Top