Home / Archives / Big Screen Archives / Die Seemeeu

Die Seemeeu

Nuwe Olwagen film word vrygestel na die sukses van Kanarie!

Christiaan Olwagen se derde vollengte film, Die seemeeu, word op 5 April by fliekteaters landswyd vrygestel. Van dieselfde kreatiewe span, met ‘n geselskap van teater-reuse, en die weghol sukses van Kanarie in 2018, beloof Die seemeeu om nie teleur te stel nie.

Olwagen neem dié klassieke teaterstuk deur Anton Tsjechof en verplaas dit na Suid-Afrika in die 1990’s, bykans 100 jaar nadat dit geskryf is. Wat merkwaardig is, is dat die karakters uiters gemaklik in hierdie nuwe tydgleuf en omgewing bestaan, amper asof hulle geskryf is met die moontlikheid van só ‘n verplasing in gedagte.

Elkeen van Tsjechof se volronde karakters wroeg met hulle eie vrese, verlange, twyfel en frustrasies, wat natuurlik as gevolg van hulle eie tedoen is. Ons ontmoet die teater diva Irene, vertolk deur immergewilde Sandra Prinsloo, wie sukkel om gewoond te raak aan streeksrade wat nie meer bestaan nie en kunstefeeste wat haar loopbaan se voorland is. Haar sieklike ouer broer, Piet, vertolk deur akteur legende Marius Weyers, wens hy het meer kanse gevat in sy lewe.

Die onsekere, verlore en vergete seun, Konstant, word gespeel deur Albert Pretorius, wie net sy ma se aandag en goedkeuring soek. Die naïwe aspirerende aktrise Nina, met Rolanda Marais in die rolverdeling, wil wegkom uit die kloue van haar ouers en die klein dorpie waar sy woon en weet nie wat om te doen wanneer sy die geleentheid kry nie. Die immer-teneergedrukte Masha, vertolk deur Cintaine Schutte, handhaaf ‘n liefdesdriehoek, terwyl die opgewekte filosoof Dr Eugene, gespeel deur Gerben Kamper, alles van ‘n afstand waarneem. Verder vind ons die onafgewerkte plaasbestuurder Elias, met Deon Lotz in die rol, sy onderdanige vrou Paulina, gespeel deur Martelize Kolver, asook die armoedige onderwyser Simon, gespeel deur Geon Nel en ‘n bekende skrywer Boors, met Alyzzander Fourie in hierdie rol.

Elkeen van die karakters dra by tot die gevoel van gevangenheid wat die vakansie op die familieplaas onder ‘n vergrootglas bring. Olwagen se unieke styl wat buitengewone lang tonele insluit – ‘n tegniek vervolmaak deur kinematograaf Chris Vermaak – dra by tot die suksesvolle verplasing van hierdie teaterstuk na film, een honderd jaar later, aan die ander kant van die wêreld.

Die Seemeeu is op ligging geskiet in Hermanus in Mei 2017 en deur Marche Media vervaardig. Rocco Pool behartig die stelontwerp en Mariechen Vosloo is verantwoordelik vir die kostuums, terwyl Mari Conradie vir grimering sorg.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top