Bonatuurlike riller-reeks maak buiging op KykNET in April.
Daar is iets onheiligs aan die broei op die hange van die berg. Kinders verdwyn, gelok deur ‘n geheimsinnige roomyswaentjie en ‘n man, wat glo vroue klere dra…
Die bonatuurlike kom kuier op kykNET, DStv-kanaal 144, met Die Spreeus, wat op Dinsdag 9 April 2019 om 20:00 sy verskyning maak. Die Spreeus, is ʼn bonatuurlike riller-reeks, waarin twee onverskrokke speurders van die Spreeus-ondersoekeenheid elke week ʼn ander fenomeen ondersoek en misdaad se spoor tot in ander wêrelde volg.
In Die Spreeus word bekende verhale uit die Suid-Afrikaanse kultuur dikwels gebruik om ʼn storie te vertel wat ook tot vandag se kyker spreek, soos die spook van Uniondale, die tokoloshe en CJ Langenhoven se klassieke kortverhaal, Die Bouval op Wilgerdal.
Die indrukwekkende rolverdeling sluit in, onder andere, Chris Vorster wat voorheen die rol van Ryno in 7de Laan vertolk het. Hy maak sy terugkeer na TV in die rol van speurder Bas Koorts. Die verlies van sy vrou ʼn paar jaar tevore het gemaak dat die man wat van die gevaarlikste bendes op die Kaapse Vlakte gebreek het, nou ʼn skadu van sy vorige self is. Dit is danksy sy vriendskap met Rosa, dat hy die kans kry om deur middel van die Spreeus weer sy pad vind.
Sandi Schultz, wie kykers ken van, onder andere, Binnelanders en Hotel, is te sien as Rosa Scheffers, ‘n brigadier in die SAPD en die ‘beskermheer’ van die Spreeus. Rosa kom van ʼn arm agtergrond en het deur suiwer ambisie haar pad opgewerk, maar ongelukkig sodoende mense agtergelaat, vernaam haar eks-man, wie se ego nie met haar sukses kon vrede maak nie.
Monique Rockman, wat bekendheid verwerf het vir haar rol in die Afrikaanse fliek, Nommer 37, is te sien as Beatrice Mack, ʼn baie intelligente, maar ietwat opvlieënde jong meisie. Sy het wetenskap en wiskunde studeer op universiteit, maar opgeskop en by die polisie aan te sluit – deels om haar pa te irriteer. Sy bewys haarself egter, selfs tot haar eie verrassing, as ʼn besonder goeie speurder.
Van ‘n vreesaanjaende leër van spoke wat hul wraak kom opeis, ‘n bonatuurlike ontmoeting by ‘n bouval, ‘n vrou wat verdwyn en met ‘n angswekkende verskil terugkeer, ‘n outistiese seuntjie wat die toekoms kan sien, ‘n ongedierte in die nag, tot ‘n kuiergas uit die verlede wat nie tot rus kan kom nie – maak seker jy is nie alleen tuis Dinsdagaande nie…
Die Spreeus word vervaardig deur Marche Media, wat ook verantwoordelik was vir die trefferdrama, Waterfront, sowel as flieks soos Johnny is nie dood nie, Die seeumeeu en Kanarie.
Die Spreeus, kykNET se eerste bonatuurlike riller-reeks, begin Dinsdag, 9 April 2019, om 20:00.