Geraldine reik eerste enkelsnit uit
Geraldine Scholtz, ’n talentvolle jong blondine met ’n sprankelende persoonlikeid, is besig om vir haarself naam te maak in die musiekbedryf. Haar eerste enkelsnit, SOMMER, is pas uitgereik en is reeds besig om radiogolwe oor te neem en musiekharte te verower.
SOMMER is ’n popliedjie uit die pen van Johan Oberholzer en vervaardig deur Murray Lubbe (The Hit Factory) en gaan oor ’n meisie wat verlief is op iemand wat haar nie raaksien nie. Die treffer is die perfekte pasmaat vir die nuweling se sterk, helder stem en is beslis iets waarby gehore van alle ouderdomme sal aanklank vind. Met treffers soos Af en Af, Laaste asem, Vat my hoër, My alles en ‘n totaal van meer as ‘n 100 Nr. 1 titels op nasionale en internasionale radiostasies, het Johan hom as een van ons land se mees produktiewe en suksesvolle liedjieskrywers gevestig
Geraldine woon tans in Witrivier, in die Laeveld, maar kuier gereeld in Gauteng vir optredes. Sy was van kleins af lief vir musiek en het gereeld, met die haarborsel as mikrofoon, deur die huis geloop en sing. Omdat sy nie mal was oor sport nie, het sy in die laerskool begin koor sing en dit is net hier waar haar passie vir musiekmaak behoorlik vlam gevat het. Klavier sowel as kitaarlesse en stemopleiding het gevolg en sy het aan Eisteddfod-kompetisies begin deelneem, waar sy baie goeie resultate behaal het. Alhoewel sy vir ’n hele ruk operamusiek gesing het, het sy op hoërskool besluit om eerder op popmusiek te fokus en daarvan gedroom om haar talent met die wêreld te deel.
Die sangeres se loopbaan het behoorlik momentum gekry, nadat sy vir Ronel Brink, Bobby van Jaarsveld se bestuurder, ontmoet en ’n opname vir haar gespeel het. Ronel het onmiddellik bevestig dat Geraldine talent het en haar die geleentheid gegee om van Bobby se vertonings te open. Sedertdien het sy al by groot feeste, soos Innibos, opgetree en die voorreg gehad om groot gehore op die verhoog te vermaak. Sy is ook binnekort te sien by Aardklop.
As sy enige ander loopbaan moes kies, sou sy ’n prokureur wou word, omdat sy daarvan hou om te redeneer en altyd haar feite agtermekaar het, maar verklap dat sy nie op hierdie stadium graag iets anders sou wou doen as sing nie. Wanneer sy by die huis is, geniet sy dit om te lees, flieks te kyk en haar vaardighede in haar tuisateljee te beproef. Sy luister ook graag na ’n wye verskeidenheid musiek, maar sonder Celine Dion en Taylor Swift uit as haar grootste inspirasie.
Die musiekbedryf het vir Geraldine geleer om positief en dankbaar te wees oor elke geleentheid wat oor haar pad kom. Sy glo vas dat musiek ’n kunswerk is, wat die hart deur middel van die ore raak, en dit is ook wat sy graag met haar eie liedjies en loopbaan wil bereik. SOMMER is die perfekte kombinasie van treffende lirieke en ’n lekkerluister-wysie, wat haar stem op sy beste laat vertoon. As dié treffer enige aanduiding is van wat sy beplan, wag daar voorwaar ’n blink toekoms op hierdie jong blondekop in die musiekwêreld.
Foto deur Flash That Studio