Home / Archives / Music Archives / Hanna Boss: Verf Jouself

Hanna Boss: Verf Jouself

Hanna Boss is terug met ‘n splinternuwe enkelsnit!

Hanna BossSkaars ’n jaar na die vrystelling van haar eerste enkelsnit, Daar, is Hanna Boss terug met ’n splinternuwe treffer en ’n album wat vanaf Februarie 2018 die rakke van musiekwinkels gaan tref!

Verf Jouself is ’n moderne Afrikaanse Popliedjie, met inspirerende lirieke en ’n tikkie klassieke musiek vir ’n meer gesofistikeerde klank.

“Een van my gunsteling-kinderstories is Dumbo, die klein olifantjie met die vreeslike groot ore. Alhoewel hy eindeloos gespot is daaroor, het hy ’n baie goeie vriend gehad, die muis, wat die ore as ’n seën gesien het eerder as ’n las. Hierdie liedjie is deur daardie storie geïnspireer, in die hoop dat mense sal leer om hulle potensiaal en Godgegewe talente raak te sien en uit te leef, ongeag van hoe rof die verlede was,” verduidelik die sangeres. “Daar was ’n hele klomp mense betrokke by die skep van die liedjie. Ek en Seugne het aan die idee gewerk asook die invalshoek en koor geskryf, terwyl Elben Schutte en Hennie Kotze alles baie mooi saamgebind en die lirieke en verse geskryf het.”

Hierdie enkelsnit sal beslis aanklank vind by gehore van alle ouderdomme en die meesleurende wysie sal luisteraars nooi om lekker saam te sing.

Alhoewel sy maar net ’n paar jaar amptelik in die musiekbedryf doenig is, sing sy al voor gehore vandat sy drie is en die Maranata Konferensie se Nasionale Sangkompetisie – voor ’n gehoor van 2 000 mense – gewen het. Musiek is in haar gene en van haar mooiste herinneringe is gemaak in hulle sitkamer, met haar pa wat orrel en suster wat klavier of trekklavier speel. Sy is ook nie net ’n mooi gesiggie nie en spog met ’n graad in Siviele Ingenieurswese van die Universiteit van Pretoria en was onder die top drie finalejaarpresteerders met haar navorsingsprojek.

Opleiding by ’n musiekskool in Nashville, in die VSA, het haar finaal oortuig dat hierdie passie haar loopbaan moet wees. Sedertdien woon sy gereeld sanglesse by die bekroonde opera-sanger en stemafrigter, Mauri Mostert, by en sy is ook ’n liedjieskrywer in eie reg. Sy het self haar eerste enkelsnit geskryf en getoonset en saam met een van die land se beste klankregisseurs, Stass, gewerk. Sangers soos Taylor Swift, Johan Vorster en Michael Jackson is vir haar ’n groot inspirasie, omdat daar iets van hulleself deurskemer in elke liedjie wat deur hulle geskryf is – iets wat sy ook graag met haar eie musiek wil bereik.

Hanna Boss het die afgelope jaar diep in die harte van Afrikaanse musiekliefhebbers kom kruip en daar bestaan geen twyfel dat haar borrelende persoonlikheid, unieke aanslag en lekkerluisterstem vir haar nog baie deure gaan oopmaak in die toekoms nie.

Comments are closed.

Scroll To Top