Heuning Het ‘n Nuwe Maatstaf vir hulle Sukses!
Suid-Afrika se bekroonde country-duo is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, Maatstaf vir my Hart, wat nie net gaan voortbou op die unieke moderne country-popstyl waarvoor hulle bekendheid verwerf het nie, maar ook die kieskeurigste musiek-oor tevrede sal stel.
Heuning, wat bestaan uit Jeanette Pretorius en Hansie Roodt, se nuutste vrystelling kombineer ’n lekkerluisterwysie met hoendervleismooi lirieke, wat sommer dadelik diep in jou hart kruip wanneer jy dit hoor. Die liedjie is deur Vaughan Gardiner geskryf en gaan oor ’n persoon wat haar geliefde verloor het, maar die positiewe daaruit haal deur hulle tyd saam te koester en alle potensiële verhoudings te meet aan die liefde wat hulle gedeel het.
Dit is die groep se eerste opname met Hansie as nuwe lid en hulle hoop dat hulle musiek vir luisteraars iets sal beteken, al is dit net om hulle te laat glimlag na ’n lang dag. Die enkelsnit is die eerste vrystelling vanaf hulle nuwe album, wat later vanjaar uitkom en daar word ook reeds aan ’n musiekvideo beplan.
Heuning se selfgetitelde debuutalbum is in 2012 uitgereik en was onmiddellik ’n treffer onder jonk en oud. Nie net het dit in 2013 ’n Ghoema-toekenning vir Beste Country-album en ’n Huisgenoot Tempo-benoeming vir Beste Nuweling opgeraap nie, maar ook talle radiotreffers opgelewer, waaronder As ek Val, Bietjie Langer BLy, Drome, Skree en Ek wil met jou Dans, van die nommer was. Die vrystelling van hulle album, Drome, in 2015 het vir hulle die geleentheid gegee om by die Crystal Palace in Bakersfield, Kalifornië, te gaan optree.
Nadat een van die oorspronklike groeplede, Henk Dercksen, in 2016 besluit het om Spanje toe te gaan was die musiekpaar steeds so in aanvraag dat Jeanette besluit het om die duo vir ’n lewendige orkes te verruil wat baie goeie aftrek gekry het. Hansie, wat op daardie stadium vir die orkes baskitaar gespeel het, het egter so goed ingepas as gevolg van sy talent en veelsydigheid dat daar besluit is om weer terug te keer na die groep se oorspronklike formaat.
Die sangpaar het nog baie planne en drome en sal graag in die toekoms wil hê dat hulle musiek soveel as moontlik plaaslike en internasionale gehore moet bereik. Maatstaf vir my Hart gaan nie net ’n gunsteling wees op al wat treffersparades is nie, maar gaan ook voortbou op die sukses wat Heuning reeds bereik het as ’n alternatiewe country-duo met musiek wat direk met die hart praat.
Die enkelsnit is nou aanlyn beskikbaar wees.