Bekroonde fliek stel lusmaker lokprent bekend
“Soms moet jy net aanvaar dat jou familie en almal om jou eintlik jou Hollywood is…” Met hierdie boodskap maak die fliek, Hollywood in my Huis, gereed om eersdaags in teaters landswyd te open. Die lusmaker lokprent is ook vandag om 12h00 vir die eerste keer vrygestel.
Hierdie romantiese komedie het reeds op 31 Augustus 2014 by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai aandag getrek en met drie toekennings weggestap: a) Kenners keuse b) Gehoor-gunsteling en c) Gehoor-gunsteling aktrise (Christia Visser).
Hollywood in my Huis vertel die storie van ‘n doodgewone matriek meisie, Jana van Tonder (Christia Visser), en haar ouers, Beatrice en Tos van Tonder (Nicola Hanekom en Louw Venter), asook Frikkie (Edwin van der Walt), haar beste vriend en sy ouma, wat aan die verkeerdekant van die spoor woon. Jana se pa is werkloos en haar ma bedryf ‘n skoonheidssalon vanuit ‘n karavaan in die voorplaas. Die volwassenes se drome is verpletter, tog styg Jana se drome vêr bo haar beskeie omstandighede uit.
Dit is 2004 en haar matriekafskeid is om die draai. Wanneer sy op televisie sien hoe Charlize Theron die Oscar wen besluit sy daar en dan om haar matriekafskeid in haar eie “Hollywood Red Carpet” glansgeleentheid te omskep. ‘n Besluit wat haar voor moeilike keuses te staan bring en forseer om met die werklikheid van die lewe kennis te maak. Sy is heimlik verlief op Brandon (Viljé Martiz) – die skool se hartbreker en tenniskampioen – en is vasbeslote om hom te vra om saam met haar matriekafskeid toe te gaan, selfs al het hy pas met die skool se mees populêrste meisie, Angelique (Leandie du Randt) uitgemaak. Jana ontsien geen moeite nie en kom nie eens agter dat haar beste vriend, Frikkie sy gevoelens vir haar probeer wys nie…..
Dit het nege jaar geduur voor die regisseur Corne van Rooyen sy kortprent Hollywood in my Huis, wat hy as student aan die rolprentskool AFDA gemaak het, in ‘n vollengte rolprent kon omskep. Die inspirasie vir die prent oor ‘n jong tienermeisie wat groot drome koester, maar besef dat sy net dapper genoeg moet wees om haarself te wees, dan sal sy haar pad in die lewe vind, put van Rooyen uit sy eie kinderjare in Silverton, Pretoria. Hy sê baie van die gegewe en die karakters is op daardie jare geskoei. Aspekte van sy familie en vriende is te vind in Hollywood in my Huis, “Dit is eintlik ‘n hoogs persoonlike verhaal”.
Die rolbesetting het byna twee en ‘n halwe jaar geduur. Van Rooyen het van die begin af geweet die akteurs gaan die finale deurslag aan die sukses van die storie gee. Oor Christia Visser wat ook tans te sien is in Ballade vir ‘n Enkeling as Lena Aucamp Jr. sê hy: “Ek het geweet ek gaan nie maklik ‘n beter Jana as sy kry nie, sy werk vanuit haar onderbewuste sy gee nie voor nie, daar is n eerlikheid en varsheid aan haar vertolking.”
Dit het net solank geneem om die ongekunstelde Frikkie te vind. Van Rooyen het oral gesoek by universiteite, skole, agentskappe en selfs op Facebook mense deurgekyk. Toe sien hy vir Edwin van der Walt (ook nou te sien in Ballade vir ‘n Enkeling as Jacques Rynhard Jr.) in ‘n kortfilm raak. Hy het hom tenoor Christia laat speel in ‘n oudisie. “Elke oomblik was hy eg asof hy die rol sonder moeite speel” vertel Van Rooyen opgewonde.
Ander sterre wat ook in die fliek te sien is sluit in Elana Afrika-Bredenkamp, Lida Botha en Marga van Rooy.
Die prent is hoofsaaklik in Vasco en aan die Hoërskool Brackenfell geskiet. Tonele is ook in Fisantekraal, Observatory en in Kaapstad verfilm.