Stories van hoop en groei in kykNET se nuwe reeks.
Om in die oomblik te leef beteken nie slegs om doelbewus in die hier en nou te wees nie, dit beteken ook om bewus te wees van die hoofstuk én seisoen waarin ons ons tans bevind.
In die Oomblik is ’n nuwe kykNET-reeks wat op 6 Januarie om 2019 om 09:30 begin en waarin ons deur ander se stories ’n blik kry van wat dit beteken om waarlik in die oomblik te kan leef, te midde van uitdagings wat ons in die gesig staar, moeilike keuses wat gemaak moet word, asook die impak daarvan. Ons word uitgenooi na ’n dieper bewuswording van ons eie storie, om aandag te skenk aan ons binnewêreld, en om die gawe te ontdek van waarlik leef. Dis ’n spasie van hoop waarbinne transformasie en heling kan plaasvind en ons ontdek, dat ons deel is van ’n groter storie – God se storie.
In elke episode van In die Oomblik word ons geïnspireer deur iemand se storie van transformasie, hoop en groei. Die ateljee gedeelte van die program skep ruimte vir gesprek oor die onderwerp.
Dr. Wilmien Human, ’n kliniese sielkundige en lektor by UJ se sielkunde department, is die program se aanbieder en onderhoudvoerder. Haar kennis en ondervinding dra by tot die benadering en hantering van mense se stories en die relevante onderwerpe wat tydens die ateljeegesprek, bespreek sal word. Die ateljeegas is ’n persoon wat ’n mentor of ’n onderwerp-spesialis is.
Skakel vanaf 6 Januarie 2019, om 09:30, in op DStv-kanaal 144 vir In die Oomblik.