StarSat stel ‘n nuwe Afrikaanse Christelike Leefstyl-kanaal bekend.
TV-Kykers het deesdae die keuse, om met die druk van ‘n knoppie, letterlik honderde kanale op TV te kies – sport, kosmaak, flieks, realiteitsprogramme en vele meer, en, in die taal van hul keuse.
StarSat is opgewonde om NOG ‘n Afrkaanse kanaal bekend te stel: InPasTV.
InPasTV is een van drie Afrikaanse kanale op die StarSat-dekodeerder wat hoofsaaklik daarop gemik sal wees om die Goeie Nuus Evangelie van Jesus Christus te beeldsend.
Dié nuwe Christelike leefstyl kanaal het dit ten doel om aan alle Afrikaanssprekendes in ons mooi land ‘n geestelike kanaal daar te stel wat ‘n nie-veroordelende, waardebewuste platform sal wees waar die atmosfeer van God se genade ervaar sal word. InPasTV sal gekenmerk word as ‘n kanaal waar die fokus Jesus is en wat Hy kom doen het vir die mensdom. Dit sal nooit ‘n sondebewustheid-, skuldgevoel- of pligsbesefkanaal wees nie aangesien die liefde van God ‘n mens bekragtig tot ‘n liefde- en vredevolle lewe, en dis die kern van InPasTV.
In ons hedendaagse lewe is dit noodsaaklik om vir die mense in ons land HOOP te gee terwyl daar soveel negatiewe dinge rondom ons gebeur. Ons glo dat InPasTV die kanaal sal wees waarop menige Suid-Afrikaner sal inskakel om die Blye Boodskap van God se Genade te kan hoor. Hierdie is ‘n ongelooflike geleentheid wat ons het waardeur die kykers, op ‘n ontspanne en spontane manier, verryk, verheug en bemoedig sal word.
Me. Debbie Wu – waarnemende hoof uitvoerende beampte van ODM sê: ‘Baie Suid-Afrikaanse families van vandag baseer hul morele waardes- en naweekaktiwiteite op die bou van ‘n Christelike lewenstyl. Ons vertrou dat hierdie kanaal in die lewenswyse van baie sal pas. Ons doel is om u goeie gehalte vermaak vir die gesin te bring. Hierdie plaaslike kanaal is ‘n goeie toevoeging tot ons familie-inhoudsaanbieding en ons verwelkom dit met oop arms en het hoop dat dit diversiteit vir ons Afrikaanse kykers sal toevoeg. ”
InPasTV is ‘n CHRISTELIKE LEEFSTYL- kanaal met onderandere onderhoude, reisprogramme, mooimaakprogramme, goeie nuus boodskappe deur verskillende aanbieders, musiek en vele meer. Soos die kanaal groei, sal ons die kykers op hoogte hou van nuwe interessante programme wat in die toekoms op InPasTV sal wys.
“Ek is opgewonde en voel geseën om hierdie opwindende nuwe Christelike leesftyl kanaal met ‘n verskil te kan bestuur! Ons missie is om ń Christelike leefstylkanaal wat in essensie gaan oor die genade van God vir die mensdom aan die kykers oor te dra. En hoe dit gestalte vind in ons almal se alledaagse lewe. Dit is vir my belangrik om ons kykers in pas met God se woord te kry. Ons land het dit nodig”, sê Cor Uys InPasTV se kanaalhoof.
Op hierdie kanaal wil ons dus die Goeie Nuus Evangelie van Jesus Christus en sy Genade vir ons verkondig en daarom nooi ons elkeen om die afstandsbeheerknoppie te druk en in te skakel op INPAS, op StarSat vanaf 15 November 2017 op kanaal 368.