Home / Archives / Music Archives / Jannie du Toit

Jannie du Toit

Die Eggo van jou oë

44 jaar op die pad van Afrikaanse musiek het tientalle opnames opgelewer wat sorg dat Jannie du Toit se stem steeds landswyd op radiostasies gehoor word.

Die jongste gunsteling is Gisela de Villiers se aangrypende DIE EGGO VAN JOU OË, wat as titelsnit vir die versamelalbum gekies is. Terwyl sy eie komposisie, ‘N LIEDJIE VIR JOU, sedert 1980 gehoor kan word op alle stasies wat Afrikaanse musiek speel, is daar deur die jare talle ander opnames gemaak waaraan hy ook onthou word: onder andere MADELEINE, GEE ONS VREDE, EENVOUD, SOMERKERSFEES en PIE JESU saam met Coenie de Villiers en Chris Chameleon ‘n paar jaar gelede.

DIE EGGO VAN JOU OË lê klem op die liedjies wat deur die jare speellyste gehaal het, maar daar is ook ‘n paar van die kunstenaar se eie gunstelinge wat dikwels vir fynproewers die naaste aan die hart lê. Daaronder tel VOLGENDE WINTER, IK ZOU WEL EENS WILLEN WETEN, EK WIL VIR JOU, LEEUSPRUIT en AFDRAAIPAD, wat hy saam met Christa Steyn geskryf en opgeneem het.

Jannie du Toit het in die vroeë sewentigerjare as lid van die folk-groep TRILOGIE die eerste keer onder die aandag van Afrikaanse luisteraars gekom. Die groep is in 1973 op Sarel Myburgh se STUDENTEVARIA gehoor en in 1975 kom hulle TV-debuut reeds tydens die toetsuitsendings van die ou SATV. Daarna is hy deel van die Musiek- en Liriekbeweging saam met mense soos Koos Doep, Laurika, Coenie en Anton wat tussen 1979 en 1981 ‘n groot omwenteling in Afrikaanse musiek bewerkstellig het. Hy verlaat die regsberoep en skryf in die vroeë tagtigerjare in diens van Tukkies musiekblyspele vir ‘n studentegroep – onder andere LOELOERAAI en GANSDANS.

Daarna stel Stephan Bouwer hom aan die kabaretverhoog bekend toe hy saam met Laurika Rauch die uiters gewilde VAN BERLYN TOT BAPSFONTEIN aanbied. Hy werk vir 25 jaar saam met Christa Steyn as begeleier, medeskrywer en verwerker, – vanaf 1986 totdat sy in 2011 terminale kanker gediagnoseer is. Hulle tree wêreldwyd in meer as 20 lande op en vier in 2007 hulle 21 jaar van samewerking met die produksie JANNIE EN DIE TANNIE. Benewens talle eie komposisies gee hulle baie aandag aan Nederlandse musiek, asook aan die musiek van Koos du Plessis. Jannie se mees onlangse sukses is met DOEP IS NIE DOOD NIE, waarmee Koos se afsterwe van 30 jaar gelede herdenk word. Die program sal binnekort deur KykNet uitgesaai word nadat daar in ‘n jaar se tyd meer as 90 optredes landswyd was.

Op die oomblik is hy ook nog saam met die tjellis Susan Mouton in HARTSNAAR op die verhoog te sien en saam met Lochner de Kock in ‘n kosprogram, DIE CORDON BROERS SE KOSSÊRT, wat vanjaar ‘n draai by Innibos maak.

Jannie het die Innibos Lewenslange Toekenning vir 2012 ontvang en dit is dus heel gepas dat hy by dié Fees sy nuwe album vrystel. Dit word beplan vir 18h00 op Donderdag 2 Julie wanneer hy by die “LEGENDES-AAND” op die hoofverhoog optree saam met ou vriende soos Sonja, Rina, Laurika en Anton. Al die liedjies wat hy daardie aand gaan sing kan natuurlik op die nuwe vrystelling gehoor word.

DIE EGGO VAN JOU OË word deur JNS Musiek vrygestel en deur REAL Music in die handel versprei. Die album is reeds vanaf 25 Junie landswyd in beskikbaar.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top