VOELGOED-COUNTRY OP SY BESTE
Die opgewekte, voetstamplekker wysie en vrolike lirieke van die liedjie, Hals Oor Kop, word deesdae gereeld oor die radio gehoor en het luisteraars van dag een af bekoor – net soos wat die sangeres, Kerry Lee, die afgelope paar jaar reeds diep spore kom trap het in die harte van aanhangers regoor die land.
Hals Oor Kop is geskryf deur Hugo Ludik – saam met wie sy voorheen gewerk het aan Shut Up En Soen My en Kaalvoet Boerseun – en Vaughan Gardiner en is ’n ritmiese country-treffer wat haar stem soos ’n handskoen pas. “Dit is ’n lekker tong-in-die-kies liedjie oor liefde en hoe malverlief jy kan raak wanneer jy jonk is.
Dit is regtig ’n voelgoed-snit waarmee luisteraars lekker kan saamsing en identifiseer,” vertel Kerry Lee. Die amptelike musiekvideo is ook pas bekendgestel en sy is baie opgewonde om dit met die publiek te deel. “Dit is ’n gemaklike musiekvideo, waar ons in die sitkamer sit en musiekmaak. Dit was soveel pret om op te neem en tussen sessies het ons lekker gesels en gelag. Dit is vir my so ’n voorreg om te kan sing en dit waaraan ons gewerk het vir mense te wys.”
Hierdie lewenslustige brunet hou al vandat sy drie jaar oud is konsert en het op die ouderdom van elf self ingeskryf vir haar eerste Eistedfod. Sy het Patricia Lewis se liedjie, Jy is die rede, gesing en dit was die begin van groot dinge. Gedurende haar hoërskooljare, in Nelspruit, het sy gereeld aan kompetisies deelgeneem en is sy selfs genooi om in Mauritius en Engeland op te tree.
Temaliedjies vir Love & Mortar en Street Rods Africa op DStv, ’n debuut-album, Vou Jou Arms Om My, in 2010, ’n optrede op die hoofverhoog by Innibos in 2011 en ’n nommer een-posisie op die Maroela Media Top 20-treffersparade met haar enkelsnit, Shut Up en Soen My, het aan haar ’n amptelike plek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf besorg.
Kerry Lee het groot bewondering vir kunstenaars soos Dolly Parton, Barbara Ray en Shania Twain en dit is daarom geen verrassing dat haar nuwe album, wat binnekort op die rak gaan wees, ’n kombinasie van moderne country-musiek is nie. Dans in die Reën bestaan uit elf snitte, waarvan nege oorspronklike werke is deur Vaughan Gardiner, Hugo Ludik en Roux Cloete.
Die titelsnit, Dans in die Reën, is ’n treffende akoestiese opname, wat selfs die kritieste oor tevrede sal stel. “Die album gaan hoofsaaklik oor menslike gevoelens, veral die liefde. Die titelsnit, asook Werklik Myne Maak, lê my na aan die hart omdat dit gebaseer is op my persoonlike ervarings. Die CD is meer volwasse as my vorige werk, maar steeds jonk en prettig. Ek hoop dat dit luisteraars weer van vooraf verlief sal maak op die liefde,” verklap sy.
Om voltyds te sing bly haar grootste droom, maar intussen hou sy die pot aan die kook deur by hulle familiebesigheid te werk en net saans en oor naweke op te tree, maar sy meen dat dit oor-en-oor die moeite werd is. “Hulle sê daar is niks daarmee verkeerd om groot te droom nie en, in die nabye toekoms, wil ek graag twee oorspronklike country-liedjies in Engels opneem en Nashville toe stuur.
Kerry Lee se gunstelingaanhaling oor die lewe kom uit die liedjie, Country Strong, en gaan daaroor om nooit op te hou glo en baklei vir dit wat jy wil hê nie en sy is ’n spreekwoordelike voorbeeld van hoe harde werk jou drome kan waar maak. As sy nie ’n sanger was nie, sou sy graag ’n forensiese antropoloog wou word, maar gelukkig het sy dit liewer aan die span van Bones oorgelaat, want dit is in die harte en ore van musiekliefhebbers, waar sy die grootste verskil kan maak.