Home / Archives / Music Archives / Mariska: Dankie

Mariska: Dankie

Eerste Enkelsnit vir Mariska

Mariska glo dat musiek met die hart praat op ’n manier wat woorde alleen nie kan nie en dit is beslis ’n raak beskrywing van hierdie nuweling se treffende aanslag, wat beloof om groot opslae te maak in die Afrikaanse Musiekbedryf.

Dankie, die titel- en eerste enkelsnitvrystelling, is deur Johan Oberholzer geskryf en het ’n lekker ritme en betekenisvolle lirieke. Dit gaan daaroor om dankbaar te leef.  Die musiekvideo vir Dankie is nog nie uit nie, maar hier is om jou meer te laat hoor van die meisie:

Mariska het op ’n plaas net buite Hoedspruit grootgeword en is reeds vandat sy vyf jaar oud is in vervoering met klassieke musiek. Sy het begin met sanglesse toe sy in graad 1 was en het daarna ook vinnig instrumente soos die klavier, viool en klawerbord bemeester, waarvoor sy ’n hele string toekennings verwerf het by die Eisteddfod in haar matriekjaar. Op sewentien reik sy haar eie demo-album, Optelmeisiekind, uit met ses-en-dertig Afrikaanse en Engelse snitte. Dit het gelei tot die vrystelling van twee musiekvideos in 2011, Reënboog Hart en Alles Vir Liefde – ’n duet met Rian Ungerer wat ook gekies is om Afrika te verteenwoordig in ’n Eurovision musiekvideokompetisie. Laasgenoemde maak ook deel uit van Select Musiek se album- en DVD-samestelling, Ons Sing Duet.

Soet Soos Suiker, haar heel eerste amptelike enkelsnit, is baie goed ontvang en kan vandag nog oor die radio gehoor word. Die musiekvideo, wat deur Hartiwood Films vervaardig is en onderwatertonele insluit, het baie aandag getrek en vir haar ’n kuier op die musiekprogram, DKNT, besorg.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy hard besig met haar BA Sielkundegraad en meen dat sy ’n beroep in musiekterapie sou oorweeg het as sy nie self kon sing nie. Dié kunstenaar is vreeslik lief vir die Here en beskou elke treetjie in haar musiekloopbaan as ’n hoogtepunt. Sy meen dat gewilde country- en popmusikante die grootste invloed gehad het op haar eie musiekstyl en het groot bewondering vir sangers soos Juanita du Plessis, Corlia Botha, Nadine, Elandrè, Monique Steyn, ADAM en Joshua na die Reën.

Die musiekbedryf het vir Mariska geleer om hard te werk vir wat sy wil hê en om nie te gaan lê wanneer dinge nie uitwerk soos beplan nie. Sy wil graag met haar werk vir mense wys wie sy is en wat sy het om te bied en met haar nuwe album is hierdie meisie, met haar stroopsoet stem en vars aanslag, sterk op pad om hierdie droom te verwesenlik… want jy kan nie anders as om aandag te gee en meegevoer te raak wanneer jy vir die eerste keer daarna luister nie.

Haar stroopsoet stem, passie vir wat sy doen en sielvolle lirieke is die kragtige bestanddele agter haar debuut-album, Dankie, wat binnekort vrygestel word en beslis op al wat ’n musiekliefhebber is se CD-rak gaan pronk.

Comments are closed.

Scroll To Top