Home / Archives / Music Archives / Marno van der Merwe: Kalm jou Army

Marno van der Merwe: Kalm jou Army

Gebore om te vermaak

 

Veelsydige kunstenaar, Marno van der Merwe, het van dag een af diep spore kom trap in die harte van aanhangers regoor die land. Vandag is dié 31-jarige blondekop ’n gevestigde naam in die vermaaklikheidsbedryf met talle verhoog-, TV- en fliekrolle op sy kerfstok. Hy het ook onlangs TV-aanbieder en solo-kunstenaar by sy, reeds indrukwekkende, CV gevoeg en het nog hope planne en drome vir die toekoms.

Alhoewel hy geen formele teater-opleiding of -ondervinding gehad nie, was dit nog altyd sy droom om mense te vermaak en het hy reeds van jongs af begin gaan vir oudisies. Sy loopbaan het begin vlam vat, toe hy in 2008 uiteindelik ’n rol in ’n Barnyard-produksie losgeslaan het. Dit was so ’n groot sukses dat nog tien produksies daarna gevolg het saam met dieselfde maatskappy. Hierdie ondervinding het hom ook gehelp om voor te berei vir verskeie verhoogproduksies in Pretoria Staatsteater, waaronder Ester (2011), Dawid (2012), Jesus (2013) en Liefling (2013).

Marno se talent is egter nie net beperk tot die verhoog nie en in 2011 maak hy sy debuut in die kykNET-dramareeks, Hartland, en in 2012 sy buiging op die silwerskerm in die rol van Frank Fouché in die lokettreffer Pretville. “Ek het die rol van Frank vreeslik geniet omdat ek nog altyd daai tipe ding wou doen en Frank het geen beperkings nie. Ek hoop ek kan hom weer eendag speel en met ʼn groter storielyn. Ek dink hy sal altyd ’n kyker-gunsteling wees”, vertel hy trots. Sy indrukwekkende vertolking van die opkomende sanger met psigopatiese neigings in Die Ballade van Robbie de Wee het groot opslae gemaak in 2013 en hom ’n gesogte keuse gemaak onder film- en televisieregisseurs. Twee jaar daarna kry hy die rol as hoofkarakter, Dillion Pretorius, in die SABC-reeks Roer Jou Voete, wat vir ses maande lank op die kassie was en word hy ook ’n huishoudelike naam as die sanger, Brad Jooste, in die eerste (2014) en tweede seisoen (2016) van die kykNET-reeks Sterlopers. In Sean Else se dramatiese Anglo-Boereoorlog fliek, Modder en Bloed, vertolk hy ook die karakter JJ Ratel Wessels. “Ek is baie trots op dié fliek,” sê Marno, “veral omdat ek nog altyd graag in ’n geskiedkundige storie wou speel. Dat die fliek boonop iets van ons eie geskiedenis vertel, maak dit net ’n groter bonus. Ek hou daarvan om rolle met diepte te speel, wat vir my ʼn uitdaging is en waarmee ek myself kan verryk.

Marno is ook onlangs aangewys as die aanbieder van die kykNET-koorkompetisie, Varsity Sing, waaroor hy baie opewonde is. “Dit is iets heeltemal nuut vir my en ’n lekker uitdaging om voor ’n lewendige gehoor op te neem. Twaalf universiteitskore neem deel om as die beste koor vir 2016 gekroon te word. Die beoordelaars bestaan uit die beste koorkenners en –dirigente in die land en daar word elke maand twee episodes geskiet. Ons behoort teen Oktober klaar te wees. Dit is vreeslik lekker om nuwe mense te ontmoet en iets anders te doen,” verklap hy.

Alhoewel hy mal is oor toneelspeel, was sing nog altyd sy grootste passie en het sy kinderdroom in 2016 waar geword, met die uitreik van sy debuut-album, O My Liefde. “Dit bestaan uit lekker-luister-musiek wat mense emosioneel sal raak,” vertel Marno. Hy en die musiekvervaardiger Harshin Reddy het saam hieraan gewerk, geskryf en opgeneem. Volgens hom is die album ’n mengsel van alternatiewe en popmusiek. Hy het ses van die liedjies self geskryf, vyf saam met Harshin Reddy en hy doen ook sy eie weergawe van Steve Hofmeyr se Deur jou Vingers. “Ons werk al twee jaar lank aan die album en ek skaaf al vir tienjaar lank aan my skryfvernuf. My lewens- en liefdesondervinding was die inspirasie agter die lirieke en ek hoop dat luisteraars hiermee sal kan identifiseer. Elke liedjie het vir my baie spesiale betekenis, maar ek dink dat ‘Jy Sal Oorwin’ nogal gewild gaan wees omdat dit positief is en mense graag sulke liedjies wil hoor,” sê hy. Die album is nou te koop op www.marno.co.za, iTunes, Amazon, Google Play en by konserte.

Die eerste enkelsnit, Uitverkoop aan ons, is baie goed ontvang en kan gereeld oor die radio gehoor word. Dié liedjie, met musiek en liriek deur Marno, openbaar sy siening oor die liefde. Hier sing hy: “Ek sien jy skets jou storie. Moenie teken sonder my nie.” “Liefde is iets wat nie ligtelik op geneem moet word nie, want dit is veronderstel om permanent te wees”, verduidelik hy. “Dit is amper iets soos ’n kontrak. As jy geteken het, is dit bindend. Maar vanuit ’n liefdesoogpunt is dit vrywillig bindend.” Dan gaan die liedjie voort met “hou ons storie op jou bors, ek is uitverkoop aan ons”. “Ek dink elke mens moet sy eie, unieke liefdesstorie voortdurend koester,” gee Marno sy mening, “want as jy werklik, werklik lief is vir iemand, is jy sold out aan daardie persoon.” Die musiekvideo gaan ook binnekort vrygestel word en die tema is passie en toewyding in ’n verhouding. Kyle White is die regisseur en Marno sê dat dit ’n groot voorreg was om saam met hom te werk.

LIEDJIES OP SY DEBUUTALBUM

  1. Jy Sal Oorwin
  2. Sy
  3. Uitverkoop aan ons
  4. Deur jou vingers
  5. Huil vir my
  6. Hartklop
  7. Vuurbrand
  8. Ek wil by jou wees
  9. Kalm jou army
  10. Huis heir by jou
  11. O My Liefde
  12. Sonder Woorde

Comments are closed.

Scroll To Top