Vrede vir die nuwe kykNET sitkom!
Op 9 April 2018 het daar ’n splinternuwe Afrikaanse sitkom, Mense Mense, op kykNET begin wys. Hierdie Nouvanaand Films-produksie sluit nie net ’n sterbelaaide rolverdeling in nie, maar ook ’n pragtige temalied deur die gewilde sanger en liedjieskrywer, Len Muller, en almal praat daaroor!
Vrede is ’n opgewekte kontemporêre snit in Len se kenmerkende Afrikaans-Akoestiese styl en is geskryf in samewerking met Roan van As en Raldo Mattheus. Alhoewel daar ’n baie diep boodskap in die lirieke skuil, het die liedjie ’n ligte aanslag met ’n wysie wat in jou kop vassteek en jou uitnooi om saam te sing.
Mense Mense gaan oor ’n groep vriende wat hulle lewens deel deur saam te werk, kuier en woon in een gebou. Dit lê die wipplankrit van vriendskap, verhoudings en volwassenheid bloot, maar bowenal die onwrikbare liefde tussen vreemdelinge wat familie geword het. Bekende akteurs soos Sandra Prinsloo, Crystal-Donna Roberts, Bobby van Jaarsveld, Lea Vivier, Solomon Cupido en Reynard Slabbert is almal in die reeks te sien met Pierre van Pletzen agter die kamera en Nico Scheepers as regisseur.
Len se debuutalbum, Doodgewone Avontuur, wat in 2015 uitgereik is, het hom amptelik aan die musiekbedryf bekendgestel en heelwat treffers en benoemings (Ghoema- en Tempo-benoemings vir Manlike Kunstenaar van die Jaar en Nuweling van die Jaar) opgelewer. Sedertdien het hierdie blondekopsangsensasie ’n prominente plek in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers.
Mense Mense en dan ook Vrede se musiekvideo is op die dak van MultiChoice City geskiet en kan gereeld op kykNET (kanaal 144) gesien word. Die enkelsnit, wat geneem is vanaf die sanger se tweede solo-album, Oog van die Storm, sal ook eersdaags oor die radio gehoor word.
Len Muller is bekend vir sy diep lirieke en strelende stem en wil graag musiek skep wat lekker is om na te luister, mense sal raak en onthou sal word. Met sy nuutste prestasie oortref hy nie net sy eie verwagtinge nie, maar verewig hy ook sy plek in die Afrikaanse vermaakgeskiedenis.
Mense Mense wys op Kyknet op die volgende tye, kanaal 144
- Saterdae, om 18:00
- Sondae, om 01:30 en 11:00
- Maandae, om 01:00
- Donderdae, om 11:30
- Vrydae, om 14:30