Suid-Afrikaanse Sanger, Matthew Mole, by Wêreldpremiere van Leading Lady in Seatle
Die wêreldpremière van die fliek Leading Lady is op 13 April 2014 aangekondig en vind plaas tydens die Seattle Internasionale Filmfees (SIFF) op 7 en 8 Junie 2014.
Hierdie filmfees word wêreldwyd erken as een van die vernaamste filmfeeste in Noord-Amerika en spog met die hoogste bywoningsyfer in die VSA van ongeveer 150 000 feesgangers elke jaar.
Vanuit die pen van die regisseur en medeskrywer van Fanie Fourie’s Lobola (Henk Pretorius), wenner van die SIFF 2013 Golden Space Needle Award for Best Film, kom hierdie inspirerende storie van ‘n jong, opkomende Britse aktrise (Jodi Rutherford) wat ‘n Suid-Afrikaanse boer van Brandfort (Kobus Willemse) oorreed om haar te help om voor te berei vir die uitdagende rol as ‘n Afrikaanse oorlogsheldin in ‘n Hollywoodse rolprent. Die hoofspelers in hierdie film is Katie McGrath (Dracula, Merlin), Gil Bellows (Ally McBeal, Shawshank Redemption), Bok van Blerk en Brümilda van Rensburg.
Die film-redigeerder Warwick Allan het regisseur Henk Pretorius voorgestel aan die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Matthew Mole. Nadat hulle verskeie van Mole se musieksnitte in tonele in die fliek geplaas het, kon Pretorius hom eenvoudig nie die fliek sonder Mole se musiek indink nie. “Matthew Mole se musiek het ‘n baie unieke kwaliteit en pas die gevoel wat ons vir Leading Lady wou skep soos ‘n handskoen. Dit is amper asof die hart in Matthew Mole se musiek dieselfde hartklop as die fliek weerspieël, iets wat ons wou skep”, vertel Pretorius. Vyf van Mattew Mole se liedjies word in die vollengte fliek gebruik en sy platemaatskappy, Just Music, in samewerking met Dark Matter Studios het sopas bekendgemaak dat Mole by die wêreldpremière van Leading Lady in Seattle sal optree. Mole het geskiedenis gemaak toe hy in 2013 die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar was wat iTunes se album trefferparades op Nr 1 gehaal het met sy debuutalbum, The home we built, vervaardig deur Matthew Fink
Die klankbaan van Leading Lady sal ook vrygestel en versprei word deur Just Music saam met die amptelike bekendstelling van die fliek in Suid-Afrika.
Dark Matter Studios het die eerste lokprent vir hierdie fliek op 28 Maart vrygestel en dit het vir groot opgewondenheid en belangstelling gesorg. Die amptelike lokprent word vrygestel op 30 Mei 2014 om 12h00.
Leading Lady tref die plaaslike silwerdoek op 28 November 2014. Verspreiding vind plaas deur Ster Kinekor Entertainment.
Die Seattle Internasionale Filmfees (SIFF) se volledige program word op 1 Mei 2014 bekendgestel.