Home / Archives / Big Screen Archives / My Father’s War

My Father’s War

Treffende Suid-Afikaanse film My Father’s War in Augustus 2016 op die silwerskerm

Hierdie tweetalige (Afrikaanse/Engelse) drama fokus op die gebroke verhouding tussen ’n pa en sy rebelse tienerseun.

Edwin van der Walt speel Dap Smit in My Father's War

Edwin van der Walt speel Dap Smit in My Father’s War. Foto: Jennifer Wheatley

Die rolprent speel in 2003 af en die 19-jarige Dap Smit (Edwin van der Walt), baklei aanhoudend met sy pa, Dawid (Stian Bam), ’n veteraan van die Grensoorlog. Die mans stem oor niks saam nie en daar is klaarblyklik geen hoop op versoening tussen hulle nie. Boonop is Dawid se vrou, Karina (Erica Wessels) in die middel van hul epiese worsteling vasgevang.

Dan kry Dap ’n reeks drome waarin hy ’n gevegsoldaat tydens die Grensoorlog in die 1980’s is. Daar ontmoet hy sy pa op sy ouderdom, en hierdie drome verander Dap se persepsie – en lewe – heeltemal. Daar is nie terugkeer nie. Maar wat is die pad vorentoe?

Volgens die vervaardiger, Peter Lamberti, en skrywer/regisseur Craig Gardner, was die grootste uitdaging van die film om die tema van ’n gebroke verhouding met die Grensoorlog te kombineer – met ander woorde, hoe om ’n gaping tussen ’n pa en sy seun te oorkom as die oorlog feitlik dertig jaar gelede plaasgevind het.

En om hierdie uitdaging te oorbrug, het Gardner die belangrike droomtonele geskep. Hy sê: “Elke droom is geskep om die ontvouende storie te onthul. Dus is daar nie enige ongeoorloofde vegtonele nie. Die oorlogsdrome is eerder mikrokosms van regte gebeure wat by fiksie aansluit om óf die karakters óf die storielyn te bevorder – klein ‘mini-stories’ – binne die groter verhaal.”

Stian Bam as Dawid Smit, in My Father's War

Stian Bam as Dawid Smit, in My Father’s War. Foto: Jennifer Wheatley

Gardner gaan voort, “Die oorlog is as ’n kreatiewe instrument gebruik om die storie van die pa en seun tot ’n uitkoms te dryf. Ons het met opset nie ’n morele standpunt oor die konflik self gelewer nie. Hierdie is nie ’n Grensoorlog-rolprent nie – dit is ’n verhoudingsdrama, wat die kern van feitlik elke suksesvolle fliek is. En My Father’s War fokus op die gebroke verhouding tussen ’n pa en sy seun.”

Die filmmakers sê, “Ons hoop om so ’n breë gehoor as moontlik te bereik, maar ons wil ook hê dat elkeen wat deur die oorlog geaffekteer is, soldate, vroue, mans, kinders en ouers, dit sien. Dit sal hopelik ’n katarsiese ondervinding wees wat herinneringe oproep, spoke wegdryf en help om meer begrip vir kykers te gee – selfs diegene wat niks met die oorlog te doen gehad het nie. Enige ouer en kind sal aanklank hierby kan vind op ’n persoonlike vlak.”

Afgesien van Stian Bam, Edwin van der Walt en Erica Wessels, is Neels Clasen, Hannes Muller, Meren Reddy, Fumini Shulubana, Jai’prakesh Shewram en David Rees ook in die film te sien.

My Father’s War word op 5 Augustus 2016 landswyd in filmteaters vrygestel en word deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top