Home / Archives / Small Screen Archives / ‘n Uitsonderlike Roeping

‘n Uitsonderlike Roeping

Nog ‘n Madiba verhaal, Die, uit ‘n Uitsonderlike oogpunt.

“Wanneer ‘n mens twee dekades van jou lewe saam met iemand die pad stap, en jy verloor hulle dan, dan vat dit ‘n tydjie om die impak van daai mens op jou lewe en op die res van die wêreld te begryp. Dit is die geval met my en Nelson Mandela.” – Zelda la Grange

Madiba: ‘n Uitsonderlike roeping is ‘n dokumentêre reeks wat op 28 Julie om 20:00 op kykNET DStv-kanaal 144 begin uitsaai.

Tydens die ses episodes sal kykers ‘n blik kry op oud-president Nelson Mandela se vroeë lewe. Die reeks bevat onvertelde verhale deur die oë van Zelda la Grange, sy jarelange persoonlike assistent.

In haar soektog om die gebeure te vind wat hom as mens geskaaf het, ontdek Zelda ook hoe hierdie uitsonderlike man sy roeping gevind het. Van ‘n nederige agtergrond in ‘n landelike gemeenskap tot die grootste wêreldleier van ons tyd.

In 1994 het president Mandela en Zelda die eerste keer ontmoet. Gedurende daardie ontmoeting het hy met haar in Afrikaans gepraat; ‘n gebeurtenis wat haar lewe onherroeplik verander het. Met sy aftrede as staatspresident in 1999 het hy Zelda uit sy personeel gekies om in sy diens te bly. Hulle het oor die wêreld saam gereis en sy het eerstehands ervaar hoe hy miljoene mense se lewens aangeraak het.

Dit is ook gedurende die 19 jaar aan die staatsman se sy, dat Zelda vir soveel ure na stories kon luister oor die gebeurtenisse, mense en plekke wat ‘n invloed op die jong Nelson Mandela gehad het. Vyf jaar ná sy dood het Zelda moed gehad om terug te keer na die plekke waarvan hy met soveel deernis vertel het. Dit is op hierdie reis dat sy besef dat Nelson Mandela nie oornag ‘n staatsman en wêreldleier geword het nie, maar dat dit sy roeping van ‘n jong ouderdom was en dat die lewe hom inderwaarheid voorberei het vir wat als sou wag.

Die 6 episode program saai op kykNET DStv-kanaal 144 uit met Engelse onderskrifte, en sal ook op Showmax beskikbaar wees.

Die dokumentêr is deur Brainwave Productions vervaardig. Ekslusiewe onderhoude met onder andere mevrou Graça Machel, hoofman Zwelivelile Mandela, Bono en Morgan Freeman vorm deel van die reeks om insae te bekom oor verskillende perspektiewe rondom die nalatenskap en lewe van Nelson Mandela.

Kykers kan uitsien om dele van Suid-Afrika te sien waar Madiba grootgeword, skoolgegaan en gewoon het, en dit beloof om ‘n epiese reis te wees op die spoor van hierdie uitsonderlike mens.

Madiba: ‘n Uitsonderlike roeping begin op 28 Julie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

Volg die gesprek op sosiale media by @kykNETtv.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top