Tyd om jouself pap te lag
Die verfilming van kykNET se opwindende nuwe reeks PHIL 101 is pas voltooi en dié skreeusnaakse komedie beloof om kykers week ná week terug te lok vir nog ’n episode in die absurde sukkelbestaan van ’n filosofiedepartement met ernstige lagwekkende eksistensiële probleme. Die reeks begin Maandag, 10 April, om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) met ’n rolverdeling waarvan die name sommer by voorbaat die lagspiere kielie: Frank Opperman, Pierre van Pletzen, Bennie Fourie, Retief van der Linde, Stiaan Smith en die beeldskone nuweling Cintaine Schutte sal sorg vir kykgenot met satiriese skop.
PHIL 101 is ‘n vars nuwe komedie wat die doen en late van ’n eens glorieryke filosofiedepartement aan die Sentrale Universiteit van Suid-Afrika (SUSA) van nader bekyk. Ons volg die storie van Phillip Coetzee, ’n idealistiese maar sosiaal onaangepaste jong professor, wat aan die diep kant ingegooi word wanneer hy as departementshoof aangestel word. Hy moet vinnig leer hoe om sy boekekennis met mensekennis aan te vul, want om sy eksentrieke kollegas te bestuur is meer van ’n praktiese onmoontlikheid as ’n filosofiese probleem. Maar dis nie net die filosotte in Phillip se eie department wat sy sake werk nie – sy antagonistiese baas, Dok Knipoog Knoetze, glo vas dat daar geen plek vir filosofie in die moderne akademiese wêreld is nie. Hy maak dus die lewe gedurig nog moeiliker vir arme Phillip. Die kersie op die miskoek is dat Phillip boonop ‘n huis met sy jonger broer, Roelf, moet deel. Roelf is ‘n loopbaanstudent, tans besig met sy vierde kursus in drie jaar. Hy is dus ook ’n konstante herinnering aan alles wat Phil nie is nie.
Deel van die pynlik snaakse penaries in PHIL 101 is Philippus Boshoff, Marie Molefe van Heerden, Corné Koegelenberg, Mila Guy, Sandra Vaughn, Bibi Slippers en Elma Postma. Die reeks kom uit die pen van die blink, opkomende Jakus Eloff (Binnelanders). Johan Cronjé (Hotel) het die regie behartig.
“PHIL 101 is ’n heel nuwe soort komedie vir kykNET,” sê Anneke Villet, die toesigvervaardiger van die reeks. “Dit is hoogs gesofistikeerd met die tong lekker netjies in die kies. Die werklike trefkrag daarvan lê in die feit dat die karakters so eg en menslik is. kykNET is ook baie trots daarop dat dié komedie vir Frank Opperman en Pierre van Pletzen ná dekades weer saam op die kassie bring.”
PHIL 101 is vervaardig deur Nouvanaand Films, ‘n dinamiese Johannesburgse produksiemaatskappy wat ook verantwoordelik was vir die mokumentêre reeks Hotel, die dramedie Buurtwag en die gewilde Sterlopers.
PHIL 101 gooi uiteenlopende persoonlikhede en karakters saam in ’n drukkoker wat ’n heerlike komediebredie verwoed laat prut.
#kykNETPhil101
@kykNETtv