‘n Nuwe horison wink vir Ramey Short.
Ramey Short, alombekend vir sy rol as Dr. Quinton Meyer in die daaglikse drama Binnelanders, se nuutste projek gaan aanhangers van die akteur se voete behoorlik laat jeuk van plesier – asook hul harte raak. Short stel eersdaags sy solo-album aan die wêreld bekend, maar intussen kan musiekliefhebbers hul ore spits vir die eerste enkelsnit Al wat ek kan sê wat aan radiostasies landwyd gestuur word.
Short het ‘n spesifieke idee gehad vir die klank van die album, en het alles in sy vermoeë gedoen om dit weer te gee in sy aanbieding. Die tot dusver ongetitelde album is oor ‘n tydperk van amper twee jaar vervaardig, alhoewel die idee vir die album reeds in 2016 in die Kaap gebore is.
Short verduidelik dat die pad na die eindproduk ‘n strawwe een was, en dat hy ‘n hele span kenners gekry het om hom te help met die vervaardiging daarvan. Hy het meeste van die liedjies self geskryf, en die res saam met ‘n vriend voltooi. Toe het Short die liedjies na ‘n kundige op die gebied geneem om my te help om dit meer radio-vriendelik te maak, en toe het ek my kennis oor die vervaardiging van liedjies opgeskerp deur ‘n hele paar vervaardigers te nader, onder andere Werner Beukes, Ferdinand Skead en Rian Swanepoel – en dit was ‘n leerskool op sy eie.
Op die ou einde van die dag is die album ‘n spanpoging sowel as ‘n enkellopende reis – een wat hy nog mee besig is omdat hy nog aan van die opnames van die liedjies skaaf. Tans is daar 20 liedjies wat hy voel goed genoeg is om op die album te verskyn, maar die proses om die regte keuses uit te oefen is nog nie voltooi nie. Aangesien hierdie sy eerste album is, wil hy hierdie gedeelte van my loopbaan op ‘n hoë noot afskop.
Short vertel ook dat die Suid-Afrikaanse musieklandskap ‘n moeilike een is om jou voete in te vind, maar short is nie bang vir harde werk nie – nog minder om op sy eentjie te swoeg en sweet om sy drome te bewaarheid nie. Hy het grootgeword in ‘n kinderhuis in Durbanville, en later sport- en bemarkingsbestuur gaan studeer op Stellenbosch, waar ‘n talentsoeker van Los Angeles hom genader het om sy loopbaan ‘n effense wyer draai te gooi as wat hy aanvanklik beplan het. Short het na sy jaar oorsee weer terug gekeer na Stellenbosch en nog verdere kursusse in drama voltooi terwyl hy ‘n kelner was by die destyds bekende Julian’s Coffee Shop op die studentedorp. In 2008 het hy sy eerste deurbraak gemaak deur die rol van Quinton Meyer te aanvaar in Binnelanders.
Short se musikale ikone sluit onder andere Bon Jovi en Bryan Adams in. “Ek is nie hier om enige iemand na te maak nie – ek is ‘n musikant in my eie reg, met my eie klank en – meer belangrik – my eie woorde”