Home / Reviews / Afrikaans Film Reviews / Review: Sink

Review: Sink

Deur Jaco Lotriet

Somtyds is ons nie daartoe in staat om ons omstandighede te verander nie. Dit verander ons…

Shannon Doherty, Amalia Uys, Johan Kruger, Anel Alexander, Shoki Mokgapa, Brett Michael Innes and James Alexander, tydens die Premiere van Sink

Sarahann Doherty du Plooy, Amalia Uys, Johan Kruger, Anel Alexander, Shoki Mokgapa, Brett Michael Innes en James Alexander, tydens die Premiere van Sink

Jeremia 31:15: “‘n Gekerm word op Rama gehoor, ‘n gehuil vol hartseer. Ragel treur oor haar kinders, sy wil haar nie laat troos nie want haar kinders is weg.”

Hierdie Bybelse vers het Sink skrywer, vervaardiger en regisseur Brett Michael Innes genoop om pen op papier te plaas. Sodoende het ‘n storie met verloop van tyd ontstaan met die manuskrip van sy tweede roman, Rachel Weeping. Innes het terselfdetyd aan die draaiboekverwerking van hierdie verhaal geskaaf waaruit Sink ten einde gebore is.

Die poging om Sink tot vollengte speelfilm te vervaardig, was uitgevoer met die hoë standaarde wat deesdae in die Afrikaanse Filmbedryf gestel word. Die rolverdeling spreek vanself, asook die kreatiewe span agter die skerms, wat meer gedoen het as om net bloot ‘n storie te vertel. Hierdie vorm van kuns waarin al die apsekte van film gebruik word, is op so ‘n wyse ingespan om ‘n vloedgolf van onontdekte emosies by die gehoor te ontketen.

Shoki Mokgopa in Sink

Shoki Mokgopa, bekroon as beste aktrise vir haar rol as Rachel in Sink, tydens die 2015 Silwerskermfees

Verstrengelde omstandighede en hewige verlies word in hierdie boeiende tragedie ontgin. Die drie hoofkarakters Rachel, Michelle en Chris, word met innerlike konflik gekonfronteer wat die gehoor met uitstekende toneelspel meesleur tot in ‘n wêreld van sy eie. Alhoewel die tempo van die film aanvanklik stadig voel, bou die gebeure op tot ‘n klimaks wat die teater omskep in ‘n vakuum en die gehoor laat snak na hul asems.

Die verlies van ‘n kind is ‘n netelige onderwerp. As ‘n enkelouer uit Mosambiek, herlei Rachel die bitterheid van haar bedekte wrok teenoor haar werkgewers met deernis oor aan die gehoor. Hierdie rol word skitterend gespeel deur bekroonde aktrise Shoki Mokgopa, van wie ek seker is ons nog heelwat gaan sien. Haar neutrale, maar veelseggende gesigsuitdrukkings word versterk deur effektiewe kamerawerk en boeiende stemmingmusiek. Mokgopa beeld haar karakter op so ‘n wyse uit, dat ek self wou uitreik na haar met egte bedoelings van vertroosting en empatie.

Anel Alexander se vertolking van Michelle, stel ‘n hoë standaard wat vir geen ander aktrise terug hoef te staan nie. As ‘n swanger vrou, probeer sy haar betrokkenheid by die dood van Rachel se kind verwerk. Die jukstaposisie tussen Michelle en Rachel se gevoelens teenoor mekaar word deurgaans polsend uitgebeeld. Hulle wil mekaar aanval maar weens ‘n wedersydse respek, word hierdie gevoelens nie uitgevoer nie.

Brett Michael Innes, Skrywer, Vervaardiger, en Regisseur van Sink, op die rooi tapyt tydens die Premiere.

Brett Michael Innes, Skrywer, Vervaardiger, en Regisseur van Sink, op die rooi tapyt tydens die Premiere.

Balade vir ‘n Enkeling en Modder en Bloed akteur, Jacques Bessinger, vertolk die rol van Chris met sy unieke sjarme.  Chris is Michelle se man – hy dien as bemiddelaar tussen haar en Rachel. Hy bevind homself in ‘n uitdagende posisie waar hy begrip teenoor beide dames moet hê. Dis juis hierdie situasie waarin hy hom bevind wat veroorsaak dat meer intrige tot die verhaal van Sink gevoeg word. Jy wil hom haat en tog kry jy hom jammer…

Wat meer tot die gehalte van hierdie film bydra, is die groot name in die bedryf wat hulle verskynsel in Sink gemaak het.  Stêrre soos Amalia Uys, Asante Mabuza, Vuyelwa Booi, Diaan Lawrenson, Sandra Vaughn, Corine du Toit, Hanli Rolfes, Leandie du Randt, Siyabonga Radebe, Mandi Baard, Sarahann Doherty du Plooy, Vera Ephraim en Kabomo Vilakazi, maak elkeen hulle verskysel op die silwerdoek.  Elke vertolking in hierdie produksie, verdien om genoem te word.

Hoewel dit ‘n unieke Suid-Afrikaanse storie is, is dit ook ‘n universele verhaal, soos Innes self sê. Elke kyker sal die teater met gemengde emosies verlaat. Die vervaardigers het noukeurig die subtiliteite van die storie oorgedra, sonder om die gehoor met ‘n lepel te voer en laat hulle dus tot hul eie gevolgtrekking kom. Heellaas is ek seker elke kyker, net soos ek, sal met ‘n baanbreker produksie vermaak word.

Sink is benoem vir nege toekennings by die Silwerskermfees in 2015 en het 5 daarvan gewen, insluitend beste draaiboek, beste redigering, beste klankbaan, beste kinematografie en beste aktrise vir Shoki Mokgapa. Hierdie jaar gaan die rolprent ‘n paar draaie by internasionale filmfeeste maak nadat dit aangekondig is dat Sink een van die amptelike keuses is vir die 40ste Atlanta-filmfees.

 

Sink begin landswyd draai in teaters op 18 Maart 2016.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top