Vir Altyd, in ‘n Oomblik
Deur Louw Mulder
Stage and Screen was breë-bors trots om deel te kon wees van die amptelike premiere van Vir Altyd, wat verlede week in Fourways gehou is. By moontlik een van die beste georganiseerde film premieres wat ons nog bygewoon het, was die kwaliteit, en die hoër geligte standaarde in hierdie industrie, skitterend sigbaar.
In die Afrikaanse filmbedryf, het Ivan Botha en Donnalee Roberts hulle-self met Pad Na Jou Hart, in 2014 gevestig as Suid Afrika se nommer een romantiese silwerskerm-paartjie. Met ‘n Tempo Toekenning alreeds onder hulle belt in dieselfde jaar, het Vir Altyd glad nie kort getrek aan die verwagtinge wat geskep was nie.
Sonder om te veel van die storie weg te gee, kan ek met ‘n oop gemoed sê dat hierdie goed-voel-film daar-op uit is om so ‘n warm kol op die hart te los. Met tragedie en teleurstelling wat as inleiding tot die res van die storie dien, bevind drie paartjies hulle-self op die eiland van Mauritius, waar hulle afsonderlike redes het vir ‘n romatiese vakansie.
Vir ons twee helde, Hugo en Nina, was die landing in Mauritius heel onverwags en onbepland. As gehoor, weet ‘n mens dat Hugo en Nina op die einde by mekaar sou uitkom, maar met kinkels en draaie in die storie, is dit nogal moeilik om te voorspel hoe dit gaan gebeur. Met Ivan Botha en Donnalee Roberts in die rolle van Hugo en Nina, was dit maklik vir die vervaardigers om ‘n verwagting by die kyker te skep, wat die gewenste slotsom kan laat realiseer.
Saam met Hugo en Nina op die Eiland van Liefde, het Ben en Marietjie Botha hulle self bevind, in ‘n poging om hulle huwelik te red. Ben, vertolk deur Dirk Stoltz, kom op eienaardige maniere tot die skok, dat hy Marietjie, gespeel deur Illse Roos, kan verloor. In hulle storie binne die storie, gaan Ben dan tot die uithoeke van die eiland om haar hart, Vir Altyd, weer terug te wen. Daar is geen twyfel nie dat Ben en Marietjie se karakters met elke giggel by gedra het tot die humor van die fliek.
Uiteraard, moet ek sekere akteurs uitsonder, wat volgens my uitstekende rolle vertolk het. Mens kan nie fout kry met Botha en Roberts se vertoning nie. Maar, om in een film, ‘n kyker te ontvoer van ‘n komiese toneel met humor en lag, tot ‘n toneel waar almal saam met ‘n knop in die keel ‘n traan in die oë kry, sit nie in enige regisseur se broek nie. Dit is immers die rolverdeling wat die slag geslaan het.
Tannie Betsie en oom Paul van Zyl, is ‘n afgetrede paartjie wat na vyftig jaar eers hulle wittebrood kon vier. Wilson Dunster en Elize Cawood vertolk uitstekende rolle in hierdie film, waar die elektrisiteit tussen hierdie twee veteraan akteurs tot teen die been van die kyker se emosies sny. Dit sal my ook dus glad nie verbaas nie, dat Dunster en Cawood se suksesvolle huwelik in die regte lewe bygedra het tot die treffende emosie tydens die deel waar oom Paul sy eie vrees moes aan vat; om sy vrou te verloor as gevolg van kanker.
Vir Altyd spog ook met eg Suid Afrikaans name in die rolverdeling, soos Helene Truter as Ronel, Hugo se ma, Andre Stolz as Dominee Willem en Deirdre Wolhuter, as Christelle Lombaard. Nina se onredelike pa, Johan Lombaard word gespeel deur Andre Jacobs, en die man wie haar by die kansel koud gelaat het, Retief, word gespeel deur Stiaan Smith.
Ek kan nog vele meer komplimente uitdeel, soos vir die hele kreatiewe span, maar ek dink geen resensie sal die eer vol staan, as wat hulle werk self beleef word nie. Vir Altyd begin landswyd draai op 12 February 2016. Kry ook gerus die boek, geskryf deur Ivan Botha and Donnalee Roberts, en die klankbaan, met kunstenaars soos Joshua na die Reën, en Adam.
Dit gaan nie oor die gelukkige einde nie – dis die avontuur daarheen wat saak maak.